MOSSELBAAI NUUS - 'n Jeugkunstefees gaan vir die eerste keer van 1 tot 4 April by die Klein Karoo Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn aangebied word.
Dit word in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangebied.
Dié fees is gemik op hoërskoolleerders en -onderwysers met 'n program van teater, musiek, dans, visuele kuns en werksessies wat oor die vier dae aangebied word.
As deel hiervan gaan Mosselbaai se eie Lang Vrou, Petronel Baard op Maandag, 3 April, in 'n eenmalige vertoning hier saam met die Suid-Kaap Kinderkoor en die Mosselbaai strykensemble optree.
'n Blom in Elke Vrou
Petronel se 'n Blom in Elke Vrou-produksie, is 'n kragtoer van musiek saam met Franco Engelbrecht, Lelanè van der Merwe en Johan Engelbrecht wat gebaseer is op die lewe en skryfwerk van Mardene Marais in wie se nagedagtenis Cordis Trust, hulle hoofborg, gestig is.
Die musiek is toonsettings en oorspronklike werk uit Petronel se pen waaraan sy oor 22 jaar gewerk het en in dié vertoning bymekaar bring.
Inspirasie vir blomme tema
Petronel vertel dat insae oor inheemse en seisoenale plantegroei versamel is van tuinboukundige Ernst van Jaarsveld en Madine Swart se boek Flora se Geheime Taal. "Ek het ook vele gesprekke met plantaktivis, Jan Odendaal van Green4LifeSA, en Alta Scott van Deur die Blare Floral Art gehad."
Uitsonderlike kunswerke wat vrouwees en die plaaslike plantegroei in kuns verteenwoordig, deur Janet Dixon van ArtKaroo gaan by die uitvoering uitgestal word.
Kaartjies
Die vertoning word eenmalig op Maandag, 3 April, om 18:30 aangebied. Kaartjies is beskikbaar teen R150 per persoon, R165 by die deur.
Vriende van die KKNK betaal slegs R140 vir 'n kaartjie.
Petronel sê: "Kaartjies verkoop flink! Kom ondersteun ons gerus by die Fees!"
As deel van die ondersteuning vir plaaslike kunstenaars, het Langeberg Busdiens 'n retoer-rit wat 14:00 by die Langeberg Mall vertrek en later die aand na die vertoning van 'n Blom in elke Vrou, terugkom. Skakel 079 493 3838 vir verdere inligting.
Vir meer inligting oor die Jeugkunstefees, kan Lizané Basson by lizane@kunste.org.za gekontak word of op whatsapp 065 285 2337.
Meer inligting oor die 'n Blom in Elke Vrou-vertoning, is beskikbaar by Lang Vrou Produksies op www.kknk.co.za
Die Suid-Kaap Kinderkoor besig met 'n optrede voor die Jeugkunstefees wat van 1 tot 4 April by die KKNK gehou word.
Petronel Baard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’