MOSSELBAAI NUUS - ‘n Sogenaamde ‘hondefluisteraar’ van Mosselbaai, Phillip Page (47) is gister in die Mosselbaai Landdroshof onskuldig bevind op twee aanklagte van dieremishandeling.
Page is van die misdrywe aangekla nadat hy na bewering ‘n Engelse bulhond genaamd Spike op 24 Oktober 2013 by Hartenbos etlike meters ver gesleep het en haar aan haar halsband van trappe naby die strandgebied laat hang het.
Die ander aanklag hou verband met ‘n voorval waar Page ‘n Amerikaanse veghond tydens ‘n stapsessie met die vuis geslaan en gewurg het.
Page het onskuldig op altwee aanklagte gepleit.
Gister het die Hof bevind dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel kon bewys nie en Page is onskuldig bevind op die aanklagte teen hom.
In verband met die eerste voorval het Page getuig hy en Spike het by die trappe gegly en het ontken dat hy die hond gesleep het.
Die eienaar van Spike het aan die hof gesê hy en sy vrou wou nie ‘n nadoodse ondersoek op Spike laat doen het nie, omdat die hond vir hulle soos ‘n kind was.
Dokter Frans de Graaff, die veearts wat Spike voor haar dood behandel het, het getuig dat haar beserings gedui het op ‘n vernoude lugpyp.
De Graaff het egter geen sleepmerke op die hond opgemerk nie.
Oor die tweede voorval het Page getuig hy het homself teen die Amerikaanse veghond verdedig deur die hond om te dop en op die grond vas te druk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'