Gallery
MOSSELBAAI NUUS - 'n Herdershond-kruising is sy lewe aan die barmhartige Samaritane van Mosselbaai verskuldig wat hom van 'n gewisse dood gered het.
St Blaize-patrollielid, Benji Bobelo sê hy en sy span het op Dinsdag, 15 Mei oudergewoonte die staproete gepatrolleer toe hulle die hartverskeurende getjank van 'n hond hoor.
By nadere ondersoek het Bobelo gesien dat die hond in boomtakke op 'n afgrond by die staproete verstrengel is.
"Ons kon net die hond se kop tussen die takke sien uitsteek en hy het vreeslik gehuil," sê Bobelo. Dit was 15:00 en Bobelo het die hond reeds vroeër die oggend om 08:00 op die roete gesien.
Bobelo het by Bo-dorpbuurtwaglid, Susan Botha wat naby die toneel bly, om hulp gaan aanklop.
Botha het Mike D'Elboux, ook van die Bo-dorpbuurtwag gebel, waarna D'Elboux die Mosselbaai-polisie, die plaaslike brandweer, By Grace-ambulansdienste en die dierebeskermingsvereniging (DBV) gekontak het.
Omstanders was verlig toe die hond na langer as 'n uur begin eet het. Foto: Mike D’Elboux
Binne minute was almal op die toneel en 'n besluit is geneem om brandbestryder, Dan Dippenaar met toue en 'n draagbaar die steilte af te stuur.
"Die terrein was baie onstabiel en dit was al manier om by die hond uit te kom," sê Dippenaar.
Dippenaar het die hond na 'n paar minute bereik en sê hy is met 'n kwaai geknor begroet.
"Die hond was agressief en het heeltyd vir my geknor." Dippenaar sê hy het die hond se vertroue probeer wen. "Inwoners het hondepille en stukkies vleis aangedra en ek het dit vir die hond op die draagbaar neergesit en met hom gepraat."
Die "onderhandeling" tussen Dippenaar en die hond het langer as 'n uur geneem, voor die reun oplaas geëet het.
"Hy was baie honger, maar het ophou knor en het toe ontspan. Ons het hom in die draagbaar gesit en stukkie-vir-stukkie teen die steilte opgetrek. Dit het egter gelyk of hy wou uitspring en die DBV het 'n vangstok om sy nek gehaak waarna almal gehelp het om hom die steilte uit te trek."
Johannes Mongati, Benji Bobelo en Sisa Booi het eerste op die hond afgekom. Foto: Mike D'Elboux
DBV inspekteur Luyando, het die hond in 'n vanghok gelaai waarna die hond ondersoek is en kos en water gegee is.
Tydens die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die DBV op Woensdag, 16 Mei was die hond, wat steeds geen naam het nie, skrikkerig en sku.
"Hy is nog baie bang," sê DBV-bestuurder, Mynie Mynhardt.
Mynhardt sê die hond is ongeveer vyf jaar oud. "Dit was beslis iemand se hond want sy kondisie is goed. Hy sal by die DBV bly totdat sy eienaar hom kom haal of iemand hom wil aanneem," sê Mynhardt.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'