Landdros AP Kotze, voor wie die saak aanvanklik voorgekom het, is intussen oorlede.
Daar is verskeie beskuldigdes, ook heelparty Mosselbaaiers, wat komplekse en ineengeweefde, meerdere klagtes van misdrywe in die gesig staar.
Die saak spruit uit sardynvangste in die Mosselbaaise waters. Daar word beweer die aangeklaagdes het bedrieglik en vir eie gewin opgetree en dat hierdie optrede deur beamptes van die Departement Omgewingsake aan die lig gebring is. Die onwettige optrede is daarna intensief ondersoek deur spesiale ondersoekbeamptes van die Direktoraat van Spesiale Operasies.
Hierdie ondersoek het oor sowat twee jaar gestrek en het selfs operasies onder 'n dekmantel ingesluit. Tot ongeveer September 2002 was die inspekteurs verbonde aan die Departement Mariene en Kus Bestuur self verantwoordelik vir die kwotabeheer van die visvangste. Daar is ook beweringe deur die beskuldigdes dat van die departement se inspekteurs en waarnemers ook bedrieglik opgetree het.
In die aanvanklike hofverskyning het al die beskuldigdes onskuldig gepleit.
Klagtes
Die talle beskuldigdes word daarvan aangekla dat hulle herhaaldelik vanaf ongeveer April 2001 tot ongeveer 31 Maart 2004 betrokke was by die onwettige aankoop, verkoop of verklaar van pelagiese vis, oftewel sardyn. Na bewering is vangste nie behoorlik ingeweeg nie, soos voorgeskryf deur die onderskeie kwotas en die Mariene Wet. Verskeie hoeveelhede sardyne is teenstrydig met die kwotas en sonder die nodige toestemming aan Mosselbaaise visverwerkingsaanlegte en viswinkels gelewer.
Die permitte het na bewering slegs voorsiening gemaak dat vangste oorland na verwerkingsaanlegte aan die Weskus afgevoer moes word.
Onwettige handel in sardyn is na bewering deur 'n geïdentifiseerde beampte en monitors van die Departement toegelaat of gefasiliteer en verskeie onwettige betalings is aan skippers en van die ander beskuldigdes gemaak om hulle by die gekonkel te betrek.
Kwotas
Dit blyk dat viskwota oorskrydings na bewering plaasgevind het aangesien mariene kontrole personeel nie tydens alle landings van vis teenwoordig was nie, veral nie wanneer dit buite die amptelike ure soos voorgeskryf deur die Wet geskied het nie. Die persoon wat die Departement Marine en Kus Bestuur verteenwoordig tydens die aflaai proses, moet te alle tye teenwoordig wees terwyl die bote afgelaai word.
Daar is ook na bewering op transportkoste besnoei deurdat oortollige vis, wat nie verklaar is nie, aan plaaslike vis verwerkingsaanlegte gelewer is, in plaas daarvan om hierdie vis volgens die relevante permitvoorwaardes na vis verwerkingsaanlegte aan die Weskus te vervoer.
'n Verdere onregmatige voordeel vir die beskuldigdes wat oor kwotas beskik het of namens kwotahouers opgetree het, was dat die hoeveelheid vis gevang na bewering nie afgetrek is van die kwota vir 'n bepaalde tydperk se visvangste nie. Die onderskeie visverwerkingsaanlegte op Mosselbaai het die vis dus bekom teen laer as markverwante pryse en was na bewering in staat om die vis te verwerk sonder om die voorgeskrewe fooie, soos bepaal deur artikel 25 van die Wet, te betaal.
Impak
Een van die beskuldigdes, mnr Anton Walters van St Helenabaai aan die Weskus, het aan die Mossel Bay Advertiser vertel dat hierdie saak sy en die ander beskuldigdes se lewens ingrypend verander het. Hy het bygevoeg dat sover sy kennis strek, ses van die 33 persone wat aanvanklik aangekla is, intussen oorlede is.
Walters sê die regskoste aan hierdie saak het 'n verlammende effek op die betrokkenes.
'n Ander beskuldigde, Colin Sampson, het aan die Mossel Bay Advertiser beweer dat hy weens die gesloer van hierdie saak reeds sedert die begin daarvan nog nie weer ander werk kon kry nie.
Die volgorde van die beskuldigdes is verander in hierdie nuwe verhoor. In totaal het 33 beskuldigdes aanvanklik verskyn en het 13 beskuldigdes sedertdien skuldig gepleit, terwyl een 'n pleitooreenkoms gedoen het.
Die saak is uitgestel na 19 Augustus vir voortsetting in die Mosselbaai Streekhof. Staatsadvokaat Louis van Niekerk is die staatsaanklaer, terwyl vyf prokureurs en twee advokate die orige 20 beskuldigdes verteenwoordig.

Honderde Mosselbaaiers is van die visbedryf afhanklik vir 'n inkomste.Foto: Nickey le Roux
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'