MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit se gemeenskapsveiligheidsinisiatief het vandeesweek opnuut indruk gemaak toe topbestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Wes-Kaapse provinsiale kantoor 'n lankverwagte besoek aan die dorp gebring het.
Die delegasie, onder leiding van die provinsiale polisiehoof, lt-genl Thembisile Patekile, het met uitvoerende raadslede samesprekings gevoer waarna hulle 'n besoek aan die geïntegreerde beheersentrum geleë by die Mosselbaai-gholfklub, besoek gaan aflê het.
Gedurende sy gespreksbeurt, het portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsveiligheid, raadslid Leon van Dyk gesê dat die sentrum binne 10 dae voltooi sal wees. Van Dyk het genoem dat die projek, wat R 7 miljoen kos, slegs een dag in terme van konstruksietyd agter skedule is. Hy het voorts gesê dat die integrasie van sisteme die volgende uitdaging is en dat dit in die vooruitsig gestel word dat 'n verdere R5 tot 6 miljoen aan hierdie infrastruktuur bestee sal moet word.
Raadslid Leon van Dyk in gesprek met luitenant-generaal Thembisile Patekile, Wes-Kaapse polisiehoof. Foto: Cornelle Carstens
Patekile het in reaksie op Van Dyk se voorlegging gesê dat die benutting van tegnologie in misdaadbekamping die toekoms van polisiëring is. Hy het veral die gebruik van hommeltuie, asook die aanwending van kunsmatige intelligensie beklemtoon.
Patekile het genoem dat die munisipaliteit se voorneme om 'n taktiese eenheid tot stand te bring wat onder meer grondbesetting kan teenwerk, dalk 'n uitdaging kan wees vanuit 'n wetlike asook opleidingsraamwerk gesien. Hy het egter te kenne gegee dat daar oorweging aan die konsep geskenk kan word as 'n loodsprojek.
Patekile het gesê dat die SAPD die Mosselbaai-munisipaliteit se inisiatief verwelkom en ondersteun.
Luitenant-generaal Thembisile Patekile gedurende sy besoek aan die geïntegreerde beheersentrum. Foto's: Cornelle Carstens
Selfone
Die Garden Route Casino-gemeenskapstrust het fondse bewillig vir 11 selfone vir gebruik deur plaaslike SAPD-sektorbevelvoerders. Dit volg na 'n behoeftebepaling vanuit gesprekke met verteenwoordigers van gemeenskapspolisieforums.
"Mosselbaai is die enigste gemeenskap waar die casino 'n gemeenskapstrust bedryf en waar dié trust tot voordeel van die gemeenskap optree. Ons bedank die gemeenskapstrust vir die hulp wat sal verseker dat ons sektorbevelvoerders meer effektief met die gemeenskap sal kan kommunikeer," het die waarnemende munisipale bestuurder, Colin Puren tydens die oorhandiging van die selfone gesê.
Sodra die selfone in die SAPD se bateregister opgeneem is, sal vier selfone vir gebruik in KwaNonqaba- en Herbertsdale-; drie in Da Gamaskop- en twee elk in die Mosselbaai- en Groot-Brakrivierpolisiestasie vir die sektorbevelvoerders gebruik word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'