MOSSELBAAI NUUS - Twee 18-jarige seuns van ‘n hoërskool op Mosselbaai het na bewering die afgelope naweek ‘n mede-leerder verkrag terwyl hulle glo ‘n video daarvan gemaak het.
‘n Polisiewoordvoerder sê die voorval het op Saterdag, 16 November by ‘n huispartytjie op Mosselbaai gebeur.
Volgens die polisie het die 18-jarige slagoffer saam met ander kinders by die partytjie gedrink waarna sy aan die slaap geraak het.
Volgens die polisie het die slagoffer wakker geword en gesien dat haar klere uitgetrek is. Sy het besef dat sy verkrag is, maar het egter nie geweet wie die verdagtes is nie.
‘n Vriendin haar ingelig het dat daar ‘n video van die beweerde verkragting gemaak is en deur die verdagtes onder mede-leerders versprei is. Die meisie het ‘n saak van verkragting by die KwaNonqaba-polisiestasie aanhangig gemaak. Die polisie is in besit van die video wat gemaak is en die ondersoek duur voort. Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'