MOSSELBAAI NUUS - “Dit verg ’n hele gemeenskap om ’n kind groot te maak.” Hierdie bekende gesegde, sê lede van Hoërskool Sao Bras se matriekklas van 2001, vorm die kern van hul betrokkenheid by vanjaar se matriekgroep.
Op Saterdag 25 Julie het hierdie groep alumni die tweede werksessie van hul 100%-Matriekprogram aangebied. Die skool, sy leerders en ondersteuners mik vir ’n 100%-matriekslaagsyfer hierdie jaar.
Die eerste van hierdie sessies is vroeër vanjaar aangebied. “Die doel van hierdie inisiatief is om die pad saam met ons matrieks te stap, hulle te motiveer, te inspireer en toe te rus met die regte ingesteldheid om hul beste prestasie aan die einde van die jaar te lewer,” sê die groep.
Die oggend se program het gefokus op doelwitstelling, die ontwikkeling van ’n wen-ingesteldheid, deursettingsvermoë en die belangrikheid daarvan om in jouself te glo. “Ons wil hê alle leerders moet weet dat hulle nie alleen is nie - daar is ’n gemeenskap wat in hulle glo en hulle ondersteun.”
Kloksgewys om die tafel: Sao Bras-matrieks Tamzin Fredericks, Veronique Arendse, Tamia Karelse en Nahreezia Bruiners.
Volgens die organiseerders was een van die dag se hoogtepunte toe burgemeester Dirk Kotzé sy persoonlike suksesverhaal met die matrieks gedeel het. Hy het die leerders aangemoedig om groot te droom, hard te werk en nooit moed op te gee nie.
Sy boodskap het beklemtoon dat sukses nie oornag gebeur nie, maar deur toewyding, dissipline en volharding bereik word.
Elton van Graan, die algemene bestuurder van Pick n Pay, het ook sy loopbaanstorie gedeel en ook beklemtoon dat dissipline hoog bo-aan elkeen se lys moet wees.
Kloksgewys om die tafel: Sao Bras-matrieks Merlin Monoe, Thabang Mcube, Corne Jansen en Alzeeco Hendricks.
Die dag het verskeie werkswinkels behels en is deur lede van die klas van 2001, Bianca de Vries, Patrick Meyer, Shaun Remas, Beverley Josephs en Curt Baker aangebied.
“As oudleerders is dit vir ons ’n voorreg om terug te ploeg in die skool wat ’n belangrike rol in ons eie lewens gespeel het. Ons glo dat wanneer ’n gemeenskap saamstaan, ons ’n blywende verskil in jongmense se lewens kan maak.
Twee Sao Bras-alumni van die matriekklas van 2001, Shaun Remas en Bianca de Vries.
“Ons sien daarna uit om die res van die jaar steeds hierdie pad saam met die matrieks te stap, hulle te ondersteun en te motiveer om hul volle potensiaal te bereik. Saam glo ons dat 100% moontlik is wanneer ’n hele gemeenskap agter sy jongmense staan,” sê die groep. Hulle het ook diegene wat vir die dag se spyseniering verantwoordelik was, hartlik bedank.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’