MOSSELBAAI NUUS - Toe hy in 2018 die hoofpos by Hoërskool Punt aanvaar, het Adolf Gouws in 'n mate 'n sirkelgang voltooi.
Gouws het van sy laer- en hoërskooljare in George deurgebring. Daarna was hy al 'n Noordwester en 'n Oos-Kapenaar, en nou is hy terug "in die omgewing waarvoor ek nog altyd baie lief was," sê hy.
Sy pad na die onderwys het begin die dag toe die Noordwes-Universiteit 'n besoek by sy hoërskool afgelê het.
"Daarna het ek besef dat die onderwys-ding nogal 'n beroep kan wees waarin ek my kon uitleef. Ek het nog nooit teruggekyk nie.
"Die kombinasie van onderrig, administrasie, bestuur en sportafrigting en dat jy werklik 'n verskil binne 'n gemeenskap kan maak, was vir my 'n geweldige beloning. Al my oudskoolhoofde was rolmodelle in my loopbaan. By elkeen van hulle het ek iets geleer wat vandag deel van my mondering is."
Sy onderwysloopbaan het op 1 Januarie 1990 by Hoërskool Brits begin, vertel hy. Hier het hy oor 25 jaar die leer van onderwyser na departementshoof na adjunkhoof geklim.
In 2014 het hy die volgende trappie na hoof geneem, maar die keer by Hoërskool Cradock. Hy het die gemeenskappe en die omgewing van beide dié dorpe leer ken en liefkry.
En toe is dit Punt toe, waar hy in Oktober sewe jaar lank al deel van die Mosselbaai-gemeenskap sal wees.
Hy sê soos 'n mens ouer word, verander jou gunstelingdele van dié beroep. "As jongman was ek mal oor die afrigting van rugby en later hokkie. Skoleskyfskiet, atletiek (hoogspring) en avontuursport het my na aan die hart gelê. Ek het verskeie jare die Noord-Transvaal Skole-skyfskietspan help afrig.
"Vandag is die beplanning en bestuur van 'n skool en om te sien hoe jou personeel en leerders ontwikkel en groei een van die grootste belonings van dié loopbaan."
Saam met die belonings kom daar egter ook uitdagings. Die grootste een daarvan vir hom is om met verandering tred te hou, sê Gouws. Maar gelukkig is dit vir hom een van die lekkerste uitdagings.
"Verandering in die onderwys, verandering van ons kinders en selfs personeel. Om strategies vooruit te beplan vir verskillende scenarios wat mag uitspeel. Om elke dag positief te bly en almal om jouself positief te hou."
Gevra oor 'n hoof se wenresep en die bestanddele wat dit maak werk, antwoord hy:
"As ek een bestanddeel mag uitsonder is dit 'n skool se personeel; personeel wat leergierig is, bereid is om die uitdagings van die onderwys vierkantig in die oë te kan kyk en werklik omgee vir mekaar."
Dié uitdagings en belonings neem natuurlik heelwat van Gouws se tyd in beslag, maar hy maak wel tyd vir ander dinge búite skool.
"Die bietjie tyd wat ek oor het spandeer ek saam met my vrou, Marentia. Sy is my steunpilaar, my klankbord en my geesgenoot. Ons vat soms net die pad met 'n lekker road trip en verken die wêreld om ons. So kom ons by plekke uit wat ons nooit sou sien nie.
"In die winter jag ek graag. Dan skop die oerinstink in van net jy, die veld, die bok en jou roer. Jy laai jou batterye vir die nuwe uitdagings van môre."
Om deel van Hoërskool Punt te kan wees is vir hom 'n voorreg.
"In die jare wat vir my oor is in die onderwys en die uitdagings wat daar op ons wag, hoop ek dat ek my energie en leiding tot voordeel van die skool sal kan aanwend."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’