MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Garden Route het onlangs sy deel bygedra deur terug te gee aan die gemeenskap om klimaatsverandering aan te spreek.
Op Vrydag, 6 September, het 'n groep leerders saam met 'n onderwyser, juffrou Ilana Afrika, 'n kleuterskool in die KwaNonqaba-gemeenskap besoek.
Die doel van die leerders se projek was om te herwin wat hulle tot hul beskikking gehad het as deel van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Die ATKV se leuse vir vanjaar is "Wees die Verskil".
Dit is ook die jaar waarin die Golden Key Jeugtak by Hoërskool Garden Route gestig is. "Die skool wil dié mantra uitleef, hy wíl die verskil wees," sê Afrika.
Onder haar leiding, het dié jongmense projekte aangepak wat ernstige wêreldkwessies aanspreek: omgewingsbewustheid deur herwinning, stimulering van jong leerders in die vroeë kinderonderwysfase, voedselsekerheid, selfversorging en armoedeverligting.
Dié groep jongmense het ook 'n groentetuin begin. "Om te plant is om te glo en om te hoop". Hierdeur, wil hulle voedselsekerheid vestig en armoede verlig, maar ook onafhanklikheid kweek en vaardighede aanleer.
"Hulle het die blikkies uit hul voedingskema kombuis gebruik om kunsvaardighede te leer en het dit geskenk aan Rainbow World kleuterskool in Asla Park," verduidelik Afrika.
Hoërskool Garden Route, ook in Asla Park, het sy deure geopen gedurende die tweede skoolkwartaal van 2022, as noodmaatreël om die dringende behoefte aan skole op Mosselbaai aan te spreek.
Die ATKV is 'n vereniging wat ten doel het om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’