HARTENBOS NUUS - Gedurende April is dit weer tyd vir die gewilde blinde navigatorstydren op Hartenbos.
Die St Blaize Lions en hul jonger Leos bied dié geleentheid aan en nooi die publiek om te deel in die pret.
Mia Vorster, voorsitter van die Leos, sê hulle verwag vanjaar meer as 30 spanne om deel te neem. 'n Span bestaan uit een blinde navigator en een siende bestuurder.
Hoe werk dit?
Oomblikke vóór die tydren afskop, word die aanwysings eers oorhandig. Dié is egter slegs in braille, wat beteken die bestuurder is totaal afhanklik van sy of haar navigator.
Spanne vertrek een-een van Hart & Bosch Village. Van daar het hulle sekere punte wat hulle moet bereik oor 'n sekere afstand voor hulle weer hul pad terugvind tot by die beginpunt. Verlede jaar se roete was so tussen 80 en 90km. Die roete is egter elke jaar verskillend.
Daar is ook sekere spoedbeperkings waarby bestuurders moet hou - te stadig en jy verloor punte, maar te vínnig, en jy verloor ook punte. Kontak vir Vorster (062 417 6796) vir meer inligting.
Mossel Bay Advertiser sal in aanloop tot die tydren, so 'n paar van die blinde navigators aan die gemeenskap bekendstel.
Johan Botha (50)
Botha is 'n skakelbordoperateur van Worcester.
Hy neem sedert 1992 aan blinde navigatorstydrenne deel. "Alhoewel ek nog nie die trofee by die Mosselbaai-tydren kon wen nie, het ek oor die jare al talle trofeë by ander tydrenne gewen. Ek sien uit daarna om hierdie jaar deel te neem!
"Ek is 'n baie toegewyde gesinsman en hou daarvan om tyd saam met my vrou en 13-jarige seun deur te bring. My gunsteling tydverdryf is om na musiek te luister en saam met my seun musiek te maak."
Len Viljoen (44)
Viljoen is blind gebore.
Hy het aan die Pionierskool vir Blindes op Worcester gematrikuleer. Hy was vir 22 jaar 'n voltydse gospelsanger en het verskeie albums vrygestel.
Tans is hy die hoof van kubersekuriteitopleiding by die Hein Wagner Akademie op Worcester.
Hy is verantwoordelik vir die opleiding van visueel gestremde persone om as analiste te werk.
Viljoen is 'n kranige skaakspeler met 'n hele paar titels op sy kerfstok onder meer SA Braille kampioen in 2008 en 2013. Sy positiewe uitkyk op die lewe en verskeie prestasies is 'n inspirasie vir ander. "Niks is onmoontlik nie," is sy leuse.
Cairie van der Vyver (53)
Van der Vyver is op 28 weke oud gebore en het 'n skrale 0.907kg geweeg. Haar blindheid is ook sedert geboorte al daar.
"Ek was 'n vegter by geboorte en ek is steeds 'n vegter. Niks in die lewe sal my onderkry nie. Ek is lief vir die lewe en ek hou van 'n uitdaging. As kind het ek na vakansiekampe gegaan waar ek die enigste blinde persoon was. Ek het op die ouderdom van 16 begin om na tydrenne te gaan en geniet dit steeds."
In 2020 is Van der Vyver ook met borskanker gediagnoseer. "My stryd was om positief te bly en my liefde vir Christus het my deur alles gehaal. Ek is sedert Mei 2021 in remissie.
"Moet nooit toelaat dat die lewe jou onderkry nie, maak nie saak hoe moeilik die lewe jou hanteer nie. Geniet die lewe ten volle en jy sal sien dat wat ook al gebeur, jy die oorwinnaar kan wees."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’