OUDTSHOORN NUUS - Die familie van Hester Hufke (67), wat reeds sedert Desember verlede as vermis aangemeld is, is erg bekommerd omdat sy steeds nie gevind is nie.
Hufke, van Neppon, het op 7 Desember verlede jaar spoorloos verdwyn.
Volgens Martiens Esquire van Klooflaan 10, Neppon, haar swaer, is Hufke, nou amptelik langer as 6 maande weg.
"Ons hoop dat sy nog leef. Sy moet net. Sy is op 6 Desember 2022 vir ‘n kopbesering in die Oudtshoorn-hospitaal behandel is. Die dokter wat haar behandel het, het aan haar gesê om in die ongevalle wagkamer te wag totdat haar familie haar kom haal. Sy kon nie ‘n telefoonnommer van haar dogter of ander familie verskaf nie."
Hy vertel verder dat hy die beeldmateriaal van daardie aand by die hospitaal gesien het.
"Ons kon sien hoe sy die volgende oggend haar sak neem en by die hospital uitstap. Niemand weet saam met wie of hoe sy by die hospitaal weg is nie, maar sy is daarna nog nie weer gesien nie."
Hy vra mense wat Hufke moontlik gesien of weet waar sy haar bevind, hom by 064 953 6149 of die Oudtshoorn-polisie.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die polisie steeds besig om die saak te ondersoek.
Enige persoon met inligting kan die ondersoekbeampte, ao. Hendrina La Kay, by 044 274 4416 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’