Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - Beduidende skade is aan infrastruktuur byname strandtoegang oor die groter Mosselbaai aangerig, ná hoë seetoestande wat plaasgevind het op Saterdag, 16 September.
In die meeste gevalle is openbare toegang tot strande beskadig wat houttrappe en kuswandelpaadjies insluit.
Ter wille van publieke veiligheid het die munisipaliteit sekere openbare strandtoegangspunte afgesper en geaffekteerde strande deurlopend gemonitor aangesien gevalle van hoëgolfaksie met tussenposes gedurende die afgelope tyd steeds voorgekom het.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het onmiddellik na die stormseetoestande op 16 September verskeie strukturele konsultante aangestel om die skade te assesseer en 'n gedetailleerde verslag saam te stel voordat herstelwerk in aanvang kon neem. Die laaste verslae is aan die einde van Oktober 2023 ontvang, waarna assessore Mosselbaai verlede week op Dinsdag, 14 November, besoek het om die werkswyse vorentoe te bespreek.
Dit kan bevestig word dat goedkeuring gegee is om van 20 November met dringende en noodherstelwerk te begin.
Met die vakansieseisoen voor hande, is dit bevestig dat voorkeur gegee sal word aan gewilde strande wat deur die publiek besoek word, waar aansienlike skade aangerig is. Dit sluit in Diasstrand, Danabaai (1ste en 2de strand), Boggomsbaai, Groot-Brak-eiland, Bayview, Kusweg (Tergniet) en Gleniqua (Outeniquastrand), met ander wat sal om te volg.
Lede van die publiek word gevra om bedag te wees daarop omdat kontrakteurs vandeesweek reeds ontplooi word om met die herstelwerk by die geaffekteerde strande te begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’