MOSSELBAAI NUUS - As jy groenvingers het en weens die Covid-19-inperking maande lank tuis moet sit, soek daardie groenvingers werk om te doen.
Herman (Yster) Swart is een van die gelukkiges wat sy kennis en ervaring met groente tydens die Covid-19-inperking kon benut om groente te kweek.
Swart vertel dat sy ouers altyd groentetuine gehad het en dat hy van jongs af altyd hand bygesit het.
Hy was 'n leerder aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal en hy vertel dat hy daar baie kennis oor die verbouing van groente opgedoen het. "Groente is vir die afgelope 45 jaar my passie," vertel hy.
Swart is vir die afgelope 21 jaar 'n inwoner van Hartenbos Heuwels. Hy is veral onder hierdie inwoners bekend vir die vars groente wat hy vir die wintermaande bêre en ook aan vriende uitdeel.
Hy is veral lief om groenbone, tamaties, knoffel, beet, patats, verskeie pampoensoorte en vele meer te plant. Swart oes sy eie saad en het oor die jare ook baie plantjies gekweek. By sy woning het hy twee groot watertenks ingerig en gebruik hoofsaaklik net reënwater in sy tuin.
Een van Swart se geheime wat hy openbaar vir die suksesvolle kweek van groente, is om baie ure in die tuin te spandeer, die plante baie liefde te gee en soms selfs met hulle te praat.
"Ek glo aan beesmis. Maak so min moontlik gebruik van gifstowwe en plant baie knoffel in jou tuin om peste weg te hou," sluit hy af.
Yster Swart met een van sy makataan-waatlemoene.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'