MOSSELBAAI NUUS - Wat 'n mens in toeka se tyd kon adverteer teenoor wat vandag aanvaarbaar is, is 'n heel ander saak.
Om handelsname te vergelyk en te sien watter die toets van tyd deurstaan het, is ook natuurlik interessant.
'n Leser het onlangs vir die Mossel Bay Advertiser 'n uitgawe van dié koerant uit die jaar 1953 gebring.
Die leser se ma het hierdie uitgawe gebêre omdat die bevestiging van hul huwelik daarin vervat is.
Maar, behalwe vir dié herinnering, is daar heelwat interessanthede ook te vind.
In vandag se tyd is sigaretadvertensies byvoorbeeld ongehoord - hierdie 1953-uitgawe daarenteen, bevat sommer twee sulke advertensies.
Onthou jy hierdie tipe sigaret-advertensies?
Cavalla sigarette se advertensie pryk sommer op die voorblad.
Dan is meeste huishoudings sekerlik bekend met die handelsmerk Chamberlain's. Ook hiervoor is daar twee verskillende advertensies. Interessant is ook die pryse in hierdie koerant.
Chamberlain's tablette bemark onder die slagspreuk 'A Chamberlain's tonight will put you right!'
Vir die jonger garde, wat nie bekend is met die era van ponde, sjielings en pennies nie, sal dit dalk nie heeltemal sin maak nie. 'n Gewone grootte houertjie Chamberlain's tablette was byvoorbeeld 1s. 6d. (1 sjieling en 6 pennies).
Vir diegene wat gereeld op Louis Fourieweg ry, sal CP Nel ook 'n bekende naam wees. Die handelaar se naam vertoon ook prominent met 'n advertensie in dié uitgawe.
CP Nel is nie 'n onbekende naam hier op Mosselbaai nie.