Gallery
HERBERTSDALE NUUS - Die opening van die nuwe, moderne biblioteek op die dorp het Herbertsdale opeens deel van die 21ste eeu gemaak aangesien gratis internet nou ook op hierdie skilderagtige klein dorpie vir alle inwoners beskikbaar is.
Dit was ‘n dag gevul met vreugde en geskiedenis is gemaak toe die eerste, moderne biblioteek Dinsdag amptelik geopen is.
Hierdie biblioteek is een van slegs vier sentrums in die Mosselbaai-munisipale area wat inwoners gratis toegang tot die internet bied.
Die biblioteek is in samewerking tussen die provinsiale regering, Mosselbaai-munisipalitiet en verskeie plaaslike rolspelers opgerig.
Van die ouer gemeenskapslede en veral die leerders van Herbertsdale Primêre Skool wat die geleentheid bygewoon het, is opgewonde oor die nuwe biblioteek waar hulle kan lees en leer, werksgeleenthede op die internet kan opsoek en navorsing vir skooltake doen.
Tydens die openingsgeleentheid het die Herbertsdale-skoolkoor opgetree en leerders het gedigte voorgedra.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, self 'n oud-onderwyser, het gesê hy is opgewonde oor die voordele wat die nuwe fasiliteit vir die inwoners van Herbertsdale inhou.
“Hierdie biblioteek vorm deel van die hoekstene van Herbertsdale en dit gaan bydra om die kinders hier se leesvaardighede te verbeter.”
Die Wes-Kaapse LUR vir kultuursake en sport, Anroux Marais, het gesê die nuwe biblioteek is ‘n simbool van vernuwing, ‘n plek van veiligheid en geletterdheid, waar talent ontgin en kennis verbreed kan word.
Wyksraadslid Barnie Groenewald het die bedankings gedoen en sy eie gediggie Visserdrome vir lesers voorgelees, tot groot vermaak van almal wat die geleentheid bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Tuinroete nuus'