Gallery
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - "God seën vandag vir ons, Hy seën ons met die sagte reën wat val terwyl ons drome waar word."
Só het een van die talle begunstigdes van nuwe wonings op Herbertsdale reageer toe die Mossel Bay Advertiser haar vra hoe sy voel oor die huise en titelaktes wat die LUR vir menslike nedersettings in die Wes-Kaap, minister Bonginkosi Madikizela op Woensdag, 5 September aan verskeie mense, waaronder gestremdes oorhandig het.
Verskeie begunstigdes, onder meer Dory Kiewiet, Hendrik Blaauw, Jan Jacobs en Willem Wagenaar het die sleutels vir hul nuwe huise onder luide toejuiging ontvang.
Minister Madikizela het die geleentheid as 'n belangrike byeenkoms beskryf: "Nie net gee ons vandag huise en eiendomsreg aan die mense van Herbertsdale nie, ons bewys ook dat al die bohaai oor grondonteiening sonder vergoeding onnodig is. Natuurlik moet diegene wat hul eiendomme verloor het, dit deur grondverspreiding terugkry. Vandag bewys ons dit is nie nodig om die Grondwet van Suid-Afrika te wysig om grondeienaarskap te bevorder nie."
Die minister het bygevoeg dat grondonteiening sonder vergoeding direk bygedra het tot die tegniese resessie wat die land tans beleef. "Die regering besit 4 000 plase. As die oogmerk was om plase aan voorheen benadeeldes te gee, is hierdie plase die ideale begin. Dit sou eerder wys wees om bestaande blanke boere te vra om opkomende boere te mentor en op te lei sodat die landbou vinnig stukrag kan bou en boere, ongeag ras of geslag, voedselsekerheid kan verseker.
"In die Wes-Kaap is 200 000 nuwe wonings aan begunstigdes oorhandig en het 100 000 titelaktes grondeienaarskap vir daardie begunstigdes verseker sedert 2009. Dit is 'n bewys dat 'n wysiging aan die Grondwet onnodig is; dat die voorgestelde wysiging bloot 'n verkiesingsfoefie is om arm mense se steun te werf. Die werklikheid is dat dit juis die arm mense is wat die swaarste gaan kry weens die tegniese resessie wat Suid-Afrika nou beleef."
Terwyl sommige, veral gestremde begunstigdes hul nuwe huise op Woensdag ontvang het, is talle ander steeds in aanbou en sal nog begunstigdes binnekort trotse huiseienaars kan word.
"Daar is nie eens een staatsbeheerde maatskappy wat tans finansieel sterk en goed bestuur word nie. Met so 'n geskiedenis, kan Suid-Afrika dit bekostig om grond in die hande van die regering te plaas? Dit is meer waarskynlik dat grond herverdeel sal word na vriende van die regerende party en dat die ekonomie geheel sal ineenstort," aldus minister Madikizela.
Kyk 'n video hieronder:
Hy het 'n beroep op die gewone Suid-Afrikaner gedoen om nugter te dink oor die jongste grondbestuursbeleid van die regering.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het minister Madikizela bedank vir die wyse waarop sy kantoor onverpoos werk om behuisingsagterstande uit te wis. "Ek is opgewonde oor die vooruitsig dat die minister ook die mense van Brandwag gaan help."
"Vandag is God baie naby, dit is 'n blye dag vir Herbertsdale en sy mense - kyk net boonop die lekker reën..." het Eva Jacobs gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'