TUINROETE NUUS - Die herbegrawing van die oorskot van inheemse mense wat in die museums van George, Mosselbaai en Groot-Brakrivier bewaar word, vind op Donderdag, 12 Julie plaas by die historiese perseel van Kaptein Dikkop se graf in Pacaltsdorp.
Dit sal die eerste herbegrawing van menslike oorskot wees in die Wes-Kaapse Departement van Kulturele Sake en Sport se herbegrawingsprogram. Minister Anroux Marais het die program, wat oor die Wes-Kaap uitgerol sal word, in Juniemaand by die George-museum geloods. Die departement het vir hierdie doel menslike oorskot uit versamelings by verskeie museums onttrek.
Die herbegrafnis sal voorafgegaan word met 'n vas- en waaktyd deur 'n groep aktiviste vir inheemsemenseregte by die Geoge-museum. Dit sal Dinsdag 10 Julie om 07:00 begin. 'n Groot vuur sal by die museum gemaak word. Die volgende oggend om 10:00 gaan die groep die oorskot met Yorkstraat langs na Kaptein Dikkop se graf dra.
"Die pad gaan afgesper word vir die Khoi," sê Neil Carelse, hooforganiseerder van die geleentheid.
"By die graf gaan die seremonie aan terwyl nog gevas word. Vyf vetstertskape sal geslag word. Elke graf gaan gevul word met die bloed van die skape. Daar is vier slagters, onderskeidelik uit die Oos-, Noord-, Wes- en Suid-Kaap. Ons sal verder by die grafte vas en net voor sonsopkoms op die 12de is ons voorouers begrawe," sê Carelse.
Kraalopskop
Om die gebeurtenis te vier, word 'n kraalopskop Saterdag 14 Julie by die Drif in Blanco by die witfontein-natuurreservaat gehou.
"Daar sal rieldansers, 'n riel-orkes en'n langarmorkes wees. 'n Eland, springbokke en die skape wat by die graf geslag is, word gaargemaak vir die geleentheid. Dit is gratis en oop vir almal. Bring jou tentjie, kom maak 'n vuur en kom eis ons heilige plek op waar oor die 800 slawegrafte is," nooi Carelse.
Mense wat saam by die museum en grafte wil vas, of die naweek by die Drif wil kamp, word gevra om 'n tent saam te bring.
Kontak Neil Carelse by 074 643 9860 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'