MOSSELBAAI NUUS - Na 44 jaar ononderbroke diens aan die Mosselbaai-munisipaliteit, sal Henry Scholtz (64) vandag sy kollegas en kantoor groet en sy aftrede begroet.
Tydens n afskeidspartytjie wat Donderdag. 28 September in die stadsaal gehou is, het hy sy kollegas - van toeka en nou - alles van die beste toegewens met hul loopbane en gesê dis dié hartsmense wat hy die meeste gaan mis en, natuurlik, om elke dag werk toe te kom.
“Ek gaan veral my kollegas en die daaglikse interaksie met die gemeenskap mis, maar ek sien veral daarna uit om te ontspan en dinge rustiger te vat.
"Ek wil ook nou meer gaan stap en by die kerk betrokke raak.”
Direkteur van korporatiewe dienste, Edward Jantjies, het oom Henry vir sy lojaliteit en toewyding aan sy werkgewer en gemeenskap oor die jare bedank en bygevoeg:
“Dís ’n leeftyd en dít wil gedoen wees. Maar ons wens u (oom Henry) alles van die beste toe vir u aftrede en ons hoop u geniet elke oomblik daarvan.”
Die Mosselbaai-munisipaliteit wens oom Henry ’n geseënde aftrede toe.
Die Mosselbaai munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee (regs) het gepas afskeid geneem van Henry Scholtz (naasregs), ‘n man wat 44 jaar van sy lewe in diens van die gemeenskap vir die plaaslike owerheid gewerk het en vandag amptelik die tuig neerlê. Saam met hulle is die direkteure van finansies, Louis Fourie, en korporatiewe dienste, Edward Jantjies.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'