MOSSELBAAI NUUS - Die geboorte van Eben Henze in die Life Bay View Privaathospitaal in Mosselbaai het hospitaalpersoneel behoorlik aan die gons.
Dié jongeling is verreweg die rekordhouer as die frisste mannetjie wat nóg in die bestaan van die hospitaal hier gebore is.
Baba Eben Henze dra trots die familienaam en is vernoem na sy eie pappa en sy oupa. Mamma Rykie sê hy het die afgelope nege maande haar terdeë van sy bestaan bewus gehou. Die ouerpaar is van Heidelberg waar Eben Snr 'n landbouer is.
Eben Jnr het met geboorte op 14 Mei 'n allemintige 5.34kg geweeg en was 'n ellelange 56 cm. Sy sussie, Zarali, nou twee jaar oud, was egter 'n kortkoppie langer met geboorte op 62.5cm. Die vorige rekordhouer kon die skaal maar net tot op 4.75kg trek.
Selfs die ginekoloog, dr Alberts het met Eben Jnr se geboorte opgemerk dat die mannetjie besonder groot is.
Dalk, wie weet, is die jonge Eben net die antwoord op rugby-afrigter Rassie Erasmus se kopsere...
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'