MOSSELBAAI NUUS - Zane Labuschagne, een van Helpende Hand se vrywilligers in Mosselbaai, deel hierdie kosbare storie met die Mossel Bay Advertiser:
"Ons het gisteraand 'n groot sopskenking ontvang en warm sop gaan uitdeel vir ons gesinne. Nadat almal in oormaat sop gekry het, het daar steeds oorgebly en ons besluit toe om vir 'n paartjie te gee wat naby ons eie huis woon wat ons weet ook hulp waardeer in hierdie grendeltydperk.
"Met ons aankoms daar het die tannie skoon bewoë geraak. Sy neem toe die sop en vra ek moet asseblief net 'n rukkie wag. So 'n paar minute later kom sy by die gang af gestap met trane in haar oë. Sy hou toe vir my die mooiste porseleinpop uit en sê 'My kind, asseblief neem hierdie pop, ek weet nie hoe anders om vir julle dankie te sê vir alles wat julle doen nie'.
"Hierdie het my so aangeraak waar iemand wat niks het om te gee nie en nie veronderstel is om iets te gee nie, een van hul grootste besittings opoffer omdat 'n gewone dankie net nie hul dankbaarheid kan beskryf nie.
"My hart is al baie geroer en geruk deur die jare wat ek as vrywilliger by Helpende Hand is, maar gisteraand het ek gevoel ek wil hierdie tannie, wat so sterk probeer staan deur die verwoesting wat hierdie grendeltydperk oor haar en haar man se lewe gegooi het, net vasdruk en haar laste oordra op my skouers.
"Ek is nie 'n liefhebber van aardse besittings nie, maar hierdie pop sal vir die res van my lewe soveel sentiment en hartswaarde dra. 'n Herinnering aan die krag wat daarin lê om iets vir ander te doen. Al is dit net om sop uit te deel."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'