MOSSELBAAI NUUS - Solidariteit Helpende Hand Mosselbaai het November begin met die Help Hennie-projek.
Hulle het op Facebook 'n versoek aan die gemeenskap gerig om toiletware vir seuns te skenk.
'n Vrou van Mosselbaai het die projekleier gekontak en gevra dat sy twee bokse by haar moet kom afhaal. Die bejaarde vrou het aan vorige skoenboksprojekte deelgeneem en gedink dit is weer so 'n projek.
In elke boks was 'n onderbroek, T-hemp, toiletware en 'n sjokolade. Volgens Sanet Greeff van Helpende Hand het hulle besluit om die boks net so aan die juffrou by Hoërskool Punt te gee.
"Die dag wat ons toe die toiletware afgee gee ons die twee bokse ook en vra dat sy dit as 'n verjaarsdag- of 'n "pick-me-up"-geskenk vir 'n seun sal gee." Gelukkig het die juffrou presies geweet wie dit nodig het.
Uit die twee ontvangers het een van die seuns die vorige week sy pa en 'n ander seun sy ma weens Covid-19 aan die dood afgestaan.
"Sodra hulle terug by die skool is, sal hulle die pakkies ontvang. In beide se geval gaan dit finansieel en emosioneel swaar. Die boodskap is so aan die skenker oorgedra en sy was baie bly dat sy die hartseer van 'n kind kon beter maak," vertel Greeff.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'