MOSSELBAAI NUUS - Die dae word korter en daar is reeds 'n effe koeler luggie wat die naderende winter aankondig.
Binnekort gaan jong Mosselbaaiertjies die koue moet trotseer op pad skool toe en terug.
Die Mossel Bay Advertiser se Oliver Twist-gemeenskapsprojek het 'n projek van stapel gestuur om eerstens skoolsokkies in te samel vir minderbevoorregte leerders.
Daarbenewens wil die projek graag oorskietwol insamel en word ywerige breiers gesoek om te help om handskoene en wolmusse vir leerders te brei.
"Mossel Bay Advertiser is bevoorreg om in 'n omgee-gemeenskap te funksioneer. Ons versoek veral grys en donkerblou wol en of mense wat met donkerblou of grys wol handskoene of wolmusse kan brei, om met hierdie projek behulpsaam te wees," sê die redakteur, Suzette Herrer.
Sy het ook Shirley Coetzee, wat tot onlangs as bemarkingsbestuurder by die Advertiser betrokke was, in haar nuwe rol as projekbestuurder van die Oliver Twist-projek verwelkom.
"Shirley het met haar aftrede 'n groot leemte in die kantoor gelaat en ons is baie dankbaar dat sy haar dienste vrywillig beskikbaar gestel het om nuwe stukrag aan die Oliver Twist-projek te gee," aldus Herrer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'