Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die publiek word gevra om op hul hoede te wees vir slange wat veral teen skemeraand of vroegoggend gewaar word.
Volgens kenners, lê pofadders dikwels teen die teerpad of soos ‘n lang stok in die pad. En omdat hulle baie lui is, stap mense onbewus amper tot teen die slang voor hulle dan soos blits beweeg.
Die Mosselbaai brand-, redding-, en rampbestuurdienste het gisteraand ‘n pofadder wat op Reebokstrand gewaar is, verwyder.
‘n Inwoner het vanoggend op die Kleinbrak Gesels groep gesê dat daar weer een op die trappe oppad strand toe lê.
Volgens ‘n brandweerman van die Mosselbaai brand-, redding-, en rampbestuurdienste, Jowan Losper, is dit die beste om ‘n paar meter weg te staan van die slang as jy hom gewaar, maar in die oog te hou, terwyl gewag word vir ‘n slangvanger om op te daag.
VIDEO: Wessel van Oudtshoorn
“Moet glad nie die slang konfronteer of naby die slang kom nie, want dan voel hulle die vibrasies en seil weg. Dit plaas dan almal se lewens in gevaar om die slang te soek. Dit help om die slang te identifiseer deur die kleur van die slang en die lengte aan ons deur te gee. As iemand deur ‘n slang gepik word, moet hulle dadelik na die naaste hospitaal geneem word waar teengif beskikbaar is.”
Kontak die Mosselbaai se brand-, redding-, en rampbestuurdienste by 044 606 5121 of 044 606 5033 vir enige hulp of advies oor slange.
Foto: Wessel van Oudtshoorn
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'