MOSSELBAAI NUUS - Volgens gereelde opnames blyk dit dat daar 'n toenemende getal hawelose persone in Mosselbaai is en veral besighede, buurtwagte en wetstoepassers het hul kommer uitgespreek oor die meegaande probleme.
Boonop blyk dit dat die getal haweloses wat in bosse, grotte en op besigheidspersele oornag, toeneem en dat hulle op die aalmoese van die gemeenskap oorleef.
"Inwoners moet besef dat toerisme 'n baie groot komponent van die plaaslike ekonomie is. Haweloses wat toeriste lastig val, hetsy as sogenaamde karwagte of om 'n aalmoes te bedel, verjaag 'n waardevolle bron van inkomste.
"Daar is alternatiewe in plek en die gemeenskap word versoek om liefs die bestaande alternatiewe te ondersteun sodat die probleem met haweloses effektief aangespreek kan word."
Dringende beroep
'n Dringende beroep word op die gemeenskap gedoen om die bosslapers en haweloses nie met kos, klere en veral nie kontant nie te ondersteun omdat dit hulle in staat stel om op straat te oorleef.
Verteenwoordigers van die Bo-dorp- en Onderdorp-buurtwagte, die Mosselbaai-polisie, die bestuur van die Spesiale Aanslagarea (CID) in die middedorp, die Mosselbaai Besigheidskamer en munisipale wetstoepassers versoek inwoners dus dringend om nie dit vir die bosslapers en ander haweloses makliker te maak om wetteloos op straat te lewe nie.
Dié groep vergader gereeld om die probleem met die toename in haweloses in die hawedorp te hanteer.
Die CID spandeer sowat R25 000 per maand aan salarisse van wagte wat help om misdaad in die middedorp te bestry. Hierdie wagte doen 'n reusetaak om toeriste en inwoners in die area te beveilig.
Hierdie taak word bemoeilik deur die teenwoordigheid van haweloses wat verkies om onhigiënies en op straat van die gemeenskap se mededeelsaamheid te oorleef.
Nagskuiling
Dit is nie nodig vir mense om op straat te slaap nie, veral nie met die naderende winterkoue nie. Mosselbaai beskik oor 'n goed-funksionerende nagskuiling wat teen groot koste ingerig is om 'n tydelike heenkome vir haweloses te bied en hulle boonop te help om weer op hul voete te kom.
Baie van die bosslapers verkies om nie van die nagskuiling se fasiliteite gebruik te maak nie omdat hulle daar aan sekere reëls onderwerp word, onder meer dat hulle nie in die skuiling drank mag gebruik nie. Ander het gekla dat die Haven se deure saans te vroeg sluit.
Toegewings
Na onderhandelinge met onder meer die Mosselbaai-munisipaliteit, het die bestuur van die Haven-nagskuiling ingestem om hul streng toelatingstye te verslap om meer haweloses 'n veilige heenkome te bied.
Die Haven kan 84 mense van onderdak, 'n warm bed en behoorlike ablusie asook kos voorsien. Die toegewing sal vir verdienstelike gevalle geld en daar sal steeds van mense wat van die Haven se dienste gebruik wil maak verwag word om nie drank of dwelms te gebruik of op die perseel te bring nie.
Dit blyk voorts dat daar reeds toegewings gemaak word vir sommige van die haweloses wat stukwerk doen.
Puik rekord
Die Haven word aan streng voorwaardes en teikens gemeet om haweloses juis met hul gesinne of families te integreer. Die Haven op Mosselbaai word in hierdie verband as die tweede beste in die Haven-nagskuilinggroep beskou met 'n suksesratio van meer as 400%.
Die Haven-nagskuilinggroep bedryf 15 soortgelyke fasiliteite in die res van die provinsie, dus is dié prestasie merkwaardig.
Bosslapers
Boonop, sê wetstoepassers, word haweloses deur dwelmsmouse misbruik om dwelms vir hulle te karwei. Sodra dwelms betrokke raak, ontstaan ander misdadigheid, onder meer diefstal en selfs roof namate afhanklikes probeer om geld te bekom om hul behoefte aan dwelms te bevredig.
Volgens wetstoepassers tree die haweloses ook as die 'oë en ore' vir kriminele op en dien as 'n vroeë waarskuwingstelsel wanneer klopjagte uitgevoer word, juis omdat hulle bykans ongesiens in die gemeenskap rondbeweeg.
Sedert buurtwagte die St Blaize-wandelroete gereeld patrolleer, is opgemerk dat daar 'n toename in haweloses op hierdie roete is wat dit gevaarliker maak vir niksvermoedende toeriste wat die area alleen of in klein groepies verken.
Boonop krap haweloses in swart vullissakke vir goed om te verkwansel, en los die omgewing in baie gevalle vol rommel en onnet.
Oom John
Sommige van die haweloses, onder meer oom John wat op die hoek van Louis Fourieweg en Georgeweg gereeld gesien kan word, verkies om op straat 'n lewe te maak juis omdat die gemeenskap hulle baie ruim ondersteun.
Na bewering weier oom John om met sy familie aan die Weskus te herenig juis omdat hy meer in Mosselbaai "verdien" as wat hy uit net sy staatstoelaes kan maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'