MOSSELBAAI NUUS - Inwoners rondom Matfieldstraat het al 'n geruime tyd las onder heemloses wat spesifiek langs 'n woonstelgebou 'n blyplek ingerig het.
"Straatmense het langs ons woonstelblok kom plak en leef met honde daar. Dis vuil en dit stink daar. Veral snags gaan dit erg daar," het 'n inwoner aan die Mosel Bay Advertiser gesê.
Die persoon het versoek om anoniem te bly uit vrees vir viktimisering.
"Moet asseblief nie my naam noem nie, want hulle teiken jou en jou familie as hulle weet jy het gekla. Ek voel jammer vir die mense, maar moet ons so leef?" het die bron gesê.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het vandeesweek 'n optrede in die gebied van stapel gestuur.
Volgens die woordvoerder van die Mosselbaai-munisipaliteit, Nickey le Roux, volhard die munisipaliteit met gereelde, daaglikse optrede, waar moontlik, teen heemloses wat 'n lewe op straat verkies.
"Ondervinding het geleer dat baie van die straatgemeenskap verkies om nie van fasiliteite soos die Haven-nagsluiling gebruik te maak nie en ook pogings om hulle met hul familie te herenig, teenstaan. In die geval van Matfield toon die wetstoepassingsbeamptes se rekords, waarvan die afgelope twee maande se logs nagegaan is, dat daar elke nag en elke oggend om 05:00 besoek gebring is om diegene wat daar aangetref is, opdrag te gee om die area te verlaat."
Le Roux sê voorts dat munisipale wetstoepassingspersoneel daagliks die algemeen-bekende areas waar die heemloses snags skuiling vind, besoek en gee, wanneer nodig, opdrag dat die mense die areas moet verlaat.
"Ingevolge munisipale verordeninge mag niemand op openbare eiendom snags slaap nie. Die probleem kan egter nie deur die munisipaliteit alleen hanteer word nie en die gemeenskap se hulp sal op prys gestel word in hierdie verband."
Die munisipaliteit doen 'n beroep om inwoners om nie aalmoese, veral nie kontant aan die hawelose gemeenskap te gee nie.
"Skenkings bemagtig die haweloses om 'n lewe op straat te slyt, met die ongelukkige nagevolge dat die munisipaliteit deurentyd op belastingbetalers se koste opruimingsoptredes moet loods om skoon te maak en te saniteer, soos en waar nodig. Daar is deernis met diegene wat op straat lewe. Daar is verskeie instansies wat omsien na die haweloses. Diegene wat graag wil, word dus versoek om liefs 'n skenking te maak aan instansies soos die Haven-nagskuiling."
Vennote soos onder meer die betrokke buurtwaggroepe en die CID bied ondersteuning om die probleem te hanteer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'