MOSSELBAAI NUUS - Vir party is hy Kombersman, vir kinders - Blanky Man of Blanket. Ander sê weer dat hy Whalla-Whalla genoem word.
Maar een ding is seker, dat Mosselbaaiers verlig is dat 'n hawelose man bekend as Stanford, nadat hy weke lank nie op sy ou loopplekke in die sentrale sakekern opgemerk is nie, glo in Kaapstad gesien is.
Stanford
Toe Brandon Mentoor, 'n werknemer by die Engen One Stop op die N2 op 22 Oktober 'n huldeblyk aan sy jarelange vriend, aan hom bekend as Stanford op sy persoonlike sosiale mediablad laai, was daar stringe kommentaar. Mentoor het die inskrywing gemaak omdat hy waarlik bekommerd was oor waar Stanford hom bevind. Uit kommentaar het dit geblyk dat Mosselbaaiers Stanford op verskeie plekke langs die N2 opgemerk het. Sommige het gesê naby Albertinia, ander weer Riversdal. Mosselbaaiers wat verder op die N2 gereis het, het hom glo by Botrivier en Grabouw sien loop.
Mentoor het vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser vertel dat hy Stanford in 2009 leer ken het.
Voorheen het Mentoor by 'n vulstasie in Humansdorp gewerk en hom daar ook ontferm oor 'n hawelose man.
"Toe ek dié ou sien, het ek die geleentheid gekry om weer so 'n band te smee. Ek het hom sy naam gevra en hy het gesê Stanford."
Stanford was daagliks op Mentoor se pad. Soveelso dat sy kinders, wat by Milkwood skoolgaan ook 'n toegeneentheid tot die man begin ervaar het. "Hulle was op 'n keer ontsteld toe van hulle skoolmaats met hulle Uncle Stanford gespot het omdat hy in asblikke krap."
Mentoor sê Stanford was sy horlosie. "Hy het 'n soort ingeboude klok, want jy sal hom altyd op dieselfde tyd op dieselfde plek op sy roete kry."
Mentoor vertel hoe hy 'n hele ruk gelede, toe hy by die werk 'n motor se registrasienommer op videomateriaal moes nagaan na 'n kliënt brandstof ingegooi het, Stanford vlugtig voor die kamera sien verbybeweeg het. "Ek was verbaas om hom op die video te sien, want hy stap nooit op die N2 nie. Toe ek uitgaan om hom te soek, was hy nêrens te sien nie."
Hierna het die dae in weke verander en Mentoor het geen teken van Stanford gesien nie.
Seepunt
Mentoor se sosiale media-inskrywing is deur ander Mosselbaaiers wat Stanford gereeld gesien het, gedeel. Groot was die blydskap toe Mosselbaaier Sally Kuschke op Saterdag, 24 Oktober 'n foto van Stanford in Seepunt, Kaapstad op sosiale media plaas. Kuschke vertel dat sy Mentoor se aanvanklike huldeblyk na haar sosiale mediablad gedeel het waar 'n vriendin in Kaapstad dit gesien het.
"Ons het in Kaapstad gebly en hier kontak my vriendin daar, wat die inskrywing gesien het my en sê sy dink sy het die hawelose man wat ons so mis op Mosselbaai by Seepunt gesien. Net daarna toe kry ek 'n foto van Stanford wat sy geneem het. Dis verstommend, want my vriendin woon in die noordelike voorstede en kom byna nooit in Seepunt nie."
Kuschke meen dat Stanford juis in Mosselbaaiers se harte gekruip het omdat hy bloot sy gang gegaan het en nooit iets van enigiemand gevra het nie.
Die trane loop wanneer Mentoor sê dat hy verlig is dat Stanford gevind is, maar dat hy hom baie mis.
"Hy het my lewe verryk en ek hoop dat my hart nooit sal verhard teenoor mense soos hy nie." Mentoor sê dat name vir hom groot betekenis het. "Stanford se naam beteken, soos ek opgelees het, stony meadow. Hy was hier in Mosselbaai vir baie mense dalk 'n struikelblok, sy voorkoms byvoorbeeld. Maar as jy nie insig in 'n saak het nie, maak jy maklik verkeerde afleidings."
Kombersman, Blanky Man, Blanket of Stanford. Die bekende gesig van ‘n hawelose man wat deur Mosselbaaiers gemis word. Foto: Brandon Mentoor
Hierdie foto van Stanford is deur ‘n vriendin van Mosselbaaier Sally Kuschke gedurende die afgelope naweek geneem en aanlyn op sosiale media geplaas.
Verwante artikel: 'Kombersman' steeds op straat
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'