Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mossel Bay Advertiser het na 'n brief van Ralie Smit in verlede week se koerant, Impalaweg se haas met haar gesels oor die hasie wat so mak is en uit die hand gevoer word.
Smit het ook vir die Advertiser videogrepe gestuur waar Hasie soos hy gedoop is, gevoer word.
"Ek beskou myself as Hasie se ma en Magda Opperman, die drawwer as sy peetma, want ek vra haar om vir hom kos te gee as ons vir 'n dag of wat weg is," vertel Smit.
Nick, haar man op sy beurt kwalifiseer dan sommer ook as die aanneempa.
"Weet regtig nie of hy/sy haas of konyn is nie," sê sy. Volgens Smit het iemand hulle meegedeel dat daar 'n tyd gelede iemand in Seesterstraat, Tergniet was wat hase of konyne aangehou het.
"Toe ek Hasie leer ken het, was hy/sy glad nie mak nie en het dit my maande geneem om hom uit my hand te laat eet of op my skoot te klim.
Ek het al gedink om hom na ons huis te bring, maar glo hy is gelukkig waar hy tussen die bosse woon," vertel sy.
VIDEO - Hasie trek kollig na Tergniet
Hasie word nou ook al hoe gewilder sedert hy/sy in die Advertiser was. Smit sê haar familie van die Vrystaat doen ook al gereeld navraag oor Hasie se doen en late.
Die moontlikheid dat Hasie dalk 'n konyn is, is baie sterk. Kenners kan gerus van hulle laat hoor. Stuur e-pos aan jannie@groupeditors.co.za
Hase vs konyne
Volgens Mieliestronk.com lyk hase en konyne baie eenders en dis maklik om hulle met mekaar te verwar. In die spreektaal word konyne ook hase genoem en hase op hul beurt weer konyne.
Konyne is in die algemeen kleiner en hul ore korter, maar reusekonyne kom ook voor.
Die vorm en grootte van konyne en hase se kopbene verskil ook. Die maklikste is om na die heel kleintjies te kyk.
Pasgebore konyne is blind, sonder hare en kan nie rondbeweeg nie. Die hasies kom egter oop oë in die wêreld, pelsies inkluis, en hulle kan gou-gou reeds rondspring.
Die twee diere se lewenstyle verskil ook. Die pels van wilde konyne is 'n gryserige bruin, wat goeie kamoeflering bied, maar troetelkonyne se kleure wissel van swart of wit tot kombinasies hiervan.
Min konyne oorleef langer as 'n jaar in die natuur, want hulle is uiters kwesbaar, maar die troeteldiere lewe gewoonlik tot so vyf jaar.
Hase het dieselfde kleure as die konyne, hoewel die pens gewoonlik wit of ligbruin is. Party hase van die koue streke word in die winter sneeuwit.
Daar is sowat 50 konyn- en haasspesies op aarde. In Suidelike Afrika is daar vier soorte konyne en twee soorte hase, naamlik:
- die uiters skaars oewerkonyn (bunolagus monticularis),
- Smith se rooiklipkonyn (pronolagus rupestris),
- Jameson se rooiklipkonyn (pronolagus randensis),
- die Natalse rooiklipkonyn (pronolagus crassicaudatus),
- en die vlakhaas (lepus capensis) en
- kolhaas (lepus saxatilis).
En dan is daar ons springhaas, wat soos 'n dwergkangaroe lyk. Dit is eintlik geensins 'n haas nie, maar behoort onder die eekhoringagtige knaagdiere ingedeel te word.
Bron: Mieliestronk.com
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'