Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - Internasionale Verpleegstersdag word elke jaar op 12 Mei gehou ter herdenking van Florence Nightingale se geboortedag.
Sy was 'n kampvegter vir moderne verpleging. Die tema ter viering van dié besondere dag is "Verpleegsters - Ons Toekoms."
FOTOGALERY: Hartenbos Versorgingsoord vier Internasionale Verpleegstersdag
Hartenbos Versorgingsoord het dié dag egter reeds die vorige dag op 11 Mei gevier en het die voorreg gehad om vyf inwonende oud-verpleegsters deel te maak van die verrigtinge. Hulle het Alta Botes, Marie Schutte, Bettie Niewoudt, Ina Croucamp en Lydia Koekemoer bedank vir die onbaatsugtige diens, wat hulle gelewer het en die diep spore wat hulle nagelaat het.
"Ons wil graag ons vyf stafverpleegsters, twee assistent-verpleegsters en 24 saalhulpe bedank en eer vir die ekstra myl wat hulle stap om te verseker dat ons kosbare inwoners die beste sorg kry," het suster Ebenya Maritz by die funksie gesê.
Volgens Maritz is die inwoners hul passie en die doel is om elke oggend op te staan en te verseker dat hulle sterk genoeg is om alles te kan hanteer, maar ook sag genoeg is om in elkeen se behoeftes te voorsien.
Sy het ook 'n belofte gemaak aan al hulle inwoners dat hulle die beste vir hulle sal gee, sal omgee, met sagtheid behandel en met betroubaarheid wil stap en ook 'n pad van empatie met hulle families wil loop.
Na afloop van die formele bedankings het die verpleegsters elkeen met 'n kers in die hand die verpleegsters-eed afgelê waarna die bestuur van Hartenbos Versorgingsoord die verpleegsters met 'n lekker ete en geskenkies bederf het.
VIDEO - Hartenbos Versorgingsoord vier Internasionale Verpleegstersdag (Video: Jannie du Plessis).
Elke verpleegster het 'n verpleegster-horlosie en onder andere so 'n kunstige klippie ontvang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’