MOSSELBAAI NUUSFLITS - Daar is die afgelope tyd gereeld berig oor 'n vlaag van misdaad in Hartenbos Heuwels.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie was veral Geelhoutlaan in die visier van boosdoeners.
Van die voorvalle aangemeld sluit in huisbraak en diefstal. In sommige voorvalle is verdagtes danksy die buurtwag en polisie se optrede aangekeer en van die gesteelde goedere teruggevind.
'n Bekommerde inwoner van Hartenbos Heuwels het verlede week nog voorvalle onder die Mossel Bay Home Ads News, asook die Da Gamaskop-polisie en die Mosselbaai-munisipaliteit gebring.
Volgens kapt Wollie Fourie, het die Da Gamaskop-polisie deeglik kennis geneem van die tendens in Hartenbos Heuwels en dienooreenkomstig aksie geneem.
"Die sektorbevelvoerder is op hoogte van sake en ons het ook die buurtwag geaktiveer. Verder, word daar voorlêdienste gedoen ten einde die misdadigers voor stok te kry." Volgens kapt Fourie is daar ook verskerpte aksies wat betref die Sonskynvallei-omgewing waar van die verdagtes in vorige sake aangemeld, aangekeer is.
"Ons doen ook weer eens 'n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by straatkomitees en buurtwagte. Saam kan ons 'n verskil maak teen misdaad."
Lees meer in Vrydag se Mossel Bay Advertiser, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'