MOSSEL BAY NEWS - Daar is baie min mense in die plaaslike sportomgewing wat nie geweet het wie Hannes Steyn (56) is of met hom vergader, gewerk of planne mee gemaak het nie.
So vertel die direkteur gemeenskapsdienste, Elize Nel, ná Steyn se afsterwe op 8 Junie.
Nel het nou met Steyn saamgewerk, wat die pos bestuurder: Sportfasiliteite tot en met sy dood beklee het.
Deur huldeblyke vanuit verskeie oorde, is dit duidelik dat Steyn 'n waardevolle rol in die wyer gemeenskap, en meer spesifiek in die sportgemeenskap, vertolk het. Hy het op 1 Julie 1998 by Mosselbaai-munisipaliteit in die gemeenskapsdienste direktoraat begin as die senior bestuurder: Tuinbou.
Dié pos het hy vir nege jaar beklee, waarna hy in die privaatsektor gewerk het. In 2011 het hy weer by die munisiplaiteit aangesluit as die bestuurder: Sportfasiliteite.
Nel sê onder Steyn se hand is die munisipale sportfasiliteite uitstekend onderhou ondanks 'n beperkte begroting én tekort aan mannekrag.
"Hy het altyd tyd gehad vir 'n vinnige geselsie en van sy sê-goed, soos 'dit gaan met my so goed soos 'n oorlogskip in vredestyd', sal mens altyd bybly."
As inwoners van Herbertsdale sedert 2002, was die Steyn-gesin ook welbekend en baie betrokke in die gemeenskap onder andere by die buurtwag. Steyn het 'n baie goeie kennis van plantegroei en die omgewing gehad en sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie.
Nel, wat ook 'n goeie verhouding met Steyn se familie het, vertel ook van die bewondering en liefde wat hy vir sy mense gehad het.
"As hy oor sy vrou, Gina, gesels het, kon jy die bewondering en trots in sy stem hoor en wanneer hy vertel het van die beginjare waar hulle saam in die sirkus gewerk het, dan kon jy dit ook in sy oë sien blink. In die 37 jaar wat hulle getroud was, het hulle baie saam beleef en ervaar en was hulle mekaar se steunpilare in alles wat hulle aangepak het. Sy dogter Jenenè was sy 'meisiekind' en haar twee kinders sy 'oogappels'."
Nel sê Steyn laat nie net 'n leemte ten opsigte van sy kundigheid in die afdeling waar hy werksaam was nie, maar ook vir sy talle kollegas, werksvriende en talle mense in die privaatsektor, wat hy deur sy werk ontmoet en mee gewerk het.
Hy laat sy vrou, dogter en twee kleinkinders Jerish en Kitai, agter. 'n Privaat familieroudiens is op Saterdag, 15 Junie, by sy huis op Herbertsdale gehou en 'n gedenkdiens word op Woensdag, 19 Junie, om 14:00 in die stadsaal gehou.