MOSSELBAAI NUUS - Verskeie ongelukke op die Hamelkop-pad gedurende die afgelope paar maande plaas die soeklig op die verantwoordelikheid vir die instandhouding van dié stuk grondpad.
Die pad is die enigste toegang van en na verskeie plase in die omgewing.
Die afgelope week is weer eens twee ongelukke aangemeld. Tans is die pad in 'n baie slegte toestand en klagtes van inwoners in dié gebied, word klaarblyklik nie aangespreek nie.
'n Bakkie het Vrydag, 19 Februarie begin gly op die baie slegte sinkplaatpad, een keer gerol en weer op sy wiele te lande gekom. Een persoon is beseer. 'n Bejaarde vrou het Maandag, 22 Februarie beheer oor haar voertuig verloor. Die voertuig het die pad verlaat en op sy sy te lande gekom. Volgens een van die inwoners is die gate in die pad baie erg en sinkplate is baie diep. Dit vererger as dit gereën het.
Mossel Bay Advertiser het 'n navraag gestuur na die departement van vervoer en openbare werke in Kaapstad onder wie se bestuur die pad val, maar het teen druktyd nog geen korrespondensie terugontvang nie.
Die bakkie het een keer gerol en die bestuurder is beseer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'