MOSSELBAAI NUUS - Tydens die intermagte tennistoernooi in Bloemfontein, waaraan lede van die polisie, weermag en korrektiewe dienste teen mekaar kragte meet, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens vanjaar skoonskip gemaak.
Die toernooi, wat oor drie dae plaasgevind het, is vroeër in Maart aangebied en 22 tennispelers, waaronder nege vroue en 14 mans, het die polisie verteenwoordig.
Daar is meegeding in enkelspel vir mans en vroue, dubbelspel, asook gemengde spel. Van die 58 wedstryde gespeel, het die polisie 54 gewen en is aangewys as algehele wenner.
Die toernooi word weer in Oktober in George aangebied.
Senior-adminstratiwe klerk van die Da Gamaskop-polisie, Helena Haasbroek was ook 'n lid van hierdie seëvierende span.
Sy het ook die polisie se Wes-Kaap-rolbalspan verteenwoordig by die nasionale kampioenskap in Germiston, waartydens haar span goud verwerf het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'