MOSSELBAAI NUUS - Wetstoepassingsbeamptes van die Mosselbaai munisipaliteit het verlede week op klagtes reageer en ondersoek ingestel na mense wat die grotte onder die gewilde St Blaize-roete bewoon.
Onder leiding van die skofbevelvoerder, superintendent Antoinette Snyders, het wetstoepassers na sowat 'n kilometer van die roete op die bewoonde grot afgekom.
Die grot was baie goed verskans en met klippe toegebou. Binne die grot was dit duidelik dat die persoon wat daar gebly het, dit vir geruime tyd reeds doen.
Benewens 14 vol swart sakke is twee matrasse en beddegoed ook uit die grot verwyder.
'n Entjie verder het wetstoepassers, wat ondersteun is deur personeel van die munisipaliteit se parke-afdeling, afgekom op 'n visstok wat ook gekonfiskeer is.
"By dié area is skokkend baie vullis en menslike ontlasting gevind en is gevra dat die munisipale personeel wat daarmee belas is, die area moet opruim en ontsmet."
Die optrede volg na klagtes en op versoek van inwoners met die doel om die St Blaize-roete vir inwoners en toeriste te beveilig.
Dit was skaars moontlik om te sien dat iemand die grot as slaapplek gebruik.
Die grot was goed ingerig en vir 'n tydjie bewoon.
Die bosslaper het baie moeite gedoen om die grot te verskans.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'