Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Jong vrou wat rasend van bekommernis was oor haar lieflinghondjie is danksy volgehoue pogings van buurtwaglede en die polisie weer met haar Yorkshire-terriër, Cocomo herenig.
Cocomo het op 4 Augustus op onverklaarbare wyse uit Nicole van Zyl se erf weggeraak.
Nicole het haar na haar broer Jeff van der Merwe gewend. Jeff is deel van die Da Nova-buurtwag en ry baie rond. Na 'n lang soektog is daar vier dae later inligting bekom dat 'n buurvrou die hond aan 'n sakkrapper oorhandig het.
Jeff het onophoudelik na Cocomo gesoek. Adjudant-offisier Amanda Lordan, asook die Onderdorp-buurtwag is betrek. Die saak is by die polisie aangemeld wat verdere stukraag aan die soektog gegee het. Verskeie speurders was ook by die soektog betrokke.
Inligting is ontvang dat Cocomo in Petersenstraat, D'Almeida opgemerk is. Jeff is hierna na die adres waar Cocomo toe gevind is. Op 12 Augustus het Jeff sy bekommerde suster, Nicole by die werk verras met Cocomo in sy arms. Nicole het haar destyds oor Cocomo ontferm toe sy as 'n optelhond op Facebook geplaas is. Cocomo het egter dadelik in Nicole se hart gekruip.
"Julle is vandag my helde, want vanaand slaap 'n ma en haar 'kind' saam. Cocomo se asempie en warmte teen my lyf is onvervangbaar," het Nicole haar dank aan almal wat help soek het betuig.
Kyk 'n video hieronder:
Die man wat Cocomo by 'n buurvrou gekry het, het nie geskroom om haar terug te gee aan haar hartseer eienaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'