GROOT BRAKRIVIER NUUS - As alles volgens plan verloop, sal Langstraat en Stasieweg in Groot-Brakrivier binnekort opgegradeer en gerehabiliteer word. Die projek van sowat R40 miljoen sluit onder meer rehabilitasie van die padoppervlak, behoorlike sypaadjies en parkeerareas in.
Hoewel die gros van die werk deur die Wes-Kaapse Regering se departement van vervoer en openbare werke befonds word, sal Mosselbaai-munisipaliteit ruim bydra om veral voetgangerveiligheid deur behoorlike sypaadjies te verseker.
Na raming sal die provinsiale regering binnekort die finale ontwerp- en bouprojek goedkeur, waarna die tenderproses sal volg.
Bouwerk behoort in Januarie 2020 te begin en nie langer as 'n jaar te duur nie.
Heelwat plaaslike besigheidslui wat vandeesweek 'n opedag oor die voorgenome projek bygewoon het, was sonder uitsondering positief oor die opgradering en voordele wat dit vir die dorp sal meebring. "Besighede is opgewonde oor die opgradering, maar het voorbehoude oor die tydsduur van die projek," het Wikus de Swart, eienaar van die Spar gesê. Hy meen die munisipaliteit moes vooraf die impak van veral die duur van die projek op plaaslike besighede gemeet het.
Projekduurte deurslaggewend
"Met die opgradering van die R102, veral weens die stop/ry omstandighede het die Spar en ander besighede enorme skade gely en herstel die kooppatrone van gereelde klante nou maar eers. Dit gaan nog maande neem om die algehele kooppatrone te herstel tot wat dit was voor die aanvang van die R102 se opgradering. Besighede in Groot-Brakrivier is vir sowat 80% van hul inkomste van die plaaslike gemeenskap se steun afhanklik. Die duur van die projek sal deurslaggewend wees vir die voortbestaan van veral die kleiner besighede wat deur padsluitings geraak mag word."
Januarie 2020
Volgens die munisipale woordvoerder, Colin Puren, sal die herstelwerk op halfbreedtes van die pad gedoen word met eenrigtingverkeer wat steeds verkeersvloei en toegang tot besighede en eiendomme sal verseker. In uitsonderlike gevalle, sou die fondasie van die pad herstelwerk kort, sal vir baie kort tye 'n stop/ry reëling geld, indien nodig. "Mosselbaai-munisipaliteit bly daartoe verbind om ekonomiese ontwikkeling te stimuleer. Vir sover moontlik sal plaaslike arbeid vanuit omliggende areas gebruik word."
Omdat die rehabilitasie tot die bestaande padreserwe beperk word, is 'n breedvoerige openbare deelnameproses en omgewingsimpakstudie nie van toepassing nie. Die rehabilitasie, let wel, nie 'n herbou van die pad nie, is onderhewig aan goedgekeurde tenderspesifikasies, algemene kontruksievoorwaardes en 'n goedgekeurde kontrakteursprogram.
Die rehabilitasie sal na raming sowat R40 miljoen (BTW ingesluit) beloop, waarvan die Mosselbaai-munisipaliteit sowat 20% sal bydra. Die projek is onderhewig aan 'n ope, mededingende tenderproses.
"Groot-Brakrivier se hooftoegange, Langstraat en Stasieweg, sal na dese kan spog met 'n gerehabiliteerde pad wat verbeterde rybaarheid en verhoogde kapasiteit vir stormwaterafvoer sal meebring. Geteerde, formele sypaadjies wat ook vir rolstoele meer toeganklik sal wees, sal waar nodig geskep word en die bestaande gruispadskouer sal verbeter word vir bykomende parkering."
Puren sê dat sover moontlik bome en plantegroei behoue sal bly, hoewel daar gevalle is waar tuine, wat binne die padreserwe aangelê is, in die slag mag bly. "Die algemene voorkoms van die dorp en omgewing, maar ook die fokus op mobiliteit en progressie en veral veilige voetgangerverkeer sal deur die projek bevorder word."
Gerhard Herbst, 'n plaaslike sakeman en restaurateur het benadruk dat besighede deurgaans vir die publiek toeganklik moet wees. Hy sê dit is hul ervaring dat restaurantgaste op gerieflike parkering aandring.
Herman Swanepoel, ondervoorsitter van die Groot-Brakriver Besigheidsforum sê besighede op Groot-Brakrivier is versigtig optimisties oor die opgraderingsprojek. "Dit is vooruitgang waarvoor ons baie dankbaar is."
Elsabe Malan bekyk van die projekvoorstelle tydens die opedag.
Die opgraderingsplanne het tot lewendige bespreking tussen munisipale beamptes, inwoners en sakelui gelei.
Daar was heelwat belangstelling, veral ook vanuit die sakegemeenskap, in die opgraderingsplanne wat tydens die opedag vir die eerste keer bekendgestel is.
Die konsultant André Delport van SMEC in gesprek met Wilhelm de Wet, voorsitter van die Groot-Brakrivier Besigheidsforum en Herman Swanepoel, die besigheidsforum se ondervoorsitter.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'