MOSSELBAAI NUUS - Danabaai het die afgelope Saterdag behoorlik gegons by Mosselbaai se eerste Ontwikkelingsbyeenkoms vir kragoptellers.
Die byeenkoms is by Hein's Gym in Danabaai onder die wakende oog van die hoofskeidsregter Jan Kruger, gehou. Kruger is self 'n nasionale- en wêreld-rekordhouer in dié sport.
Met 22 deelnemers tussen die ouderdomme van 16- en 60 jaar, is verbete meegeding in die onderskeie ouderdoms-kategorieë.
Die wenners is bepaal ná drie rondes in elk van die drie items, wat ingesluit het hurksit (squats), doodstoot (deadlift) en bankpers (bench press). Dit is egter nie net die swaarste optel, wat die wenners bepaal het nie. Die deelnemers se liggaamsgewig het ook 'n groot rol gespeel en gebaseer op die Reshel formule is die wenner dan aangewys.
In 'n naelbyt-stryd en met luidkeelse aanmoediging van die toeskouers, het elkeen sy beste uit drie pogings gelewer, en die wenners is uiteindelik aangekondig onder groot toejuiging van die ondersteuners.
Kruger het self 'n demonstrasie gelewer om te illustreer wat die mense te wagte kan wees in die Elite Raw kompetisie eerskomende Junie.
Hy het met 'n doodstoot van 305kg sukses behaal en daarmee nie-amptelik op die huidige wêreldrekord verbeter.
'n Belowende jong atleet, Stephano Reid, het gewys dinamiet kom in klein pakkies en het met sy pogings nie-amptelik vyf nasionale rekords verbeter en ook in die ope kategorie mans met die louere weggestap.
"Ons vertrou dat Stephano op 10 Junie in Kaapstad aan die nasionale kwalifiseringsbyeenkoms kan gaan deelneem om minstens een van die rekords amptelik agter sy naam te kan skryf," het Kruger gesê.
Kruger het ook alle deelnemers geluk en sterkte toegewens met hul voorbereidings vir Metal Madness 2024.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’