KAROO NUUS - Wanneer die klubrugbyspanne van Heidelberg en Groot-Brakrivier mekaar môremiddag op Outeniqua Park in die eindstryd van die Premierliga die stryd aansê, sal hulle meeding om 'n splinternuwe trofee, die SWD-beker.
Benewens die eer om in die eindstryd te speel, sal die wenspan daarop kan aanspraak maak dat hy die eerste houer van die trofee is.
Die trofee is deur Brendan Adams, burgemeesterskomiteelid vir sport van die George-stadsraad, geskenk. Hy het dit verlede Donderdag, 2 November, op Outeniqua Park aan Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby oorhandig. Dit is deur Dudley Jacobs ontwerp.
Adams het gesê die trofee gee 'n aanduiding van hoe belangrik klubrugby in die streek en vir die munisipaliteit is. "Die ontwikkeling van klubrugby is baie belangrik." Hy het besluit om 'n nuwe trofee te skenk. Die ou een se tydperk is verby en daar is verskeie jare om die ou een meegeding.
Hy het Groot-Brak en Heidelberg vir die wedstryd sterkte toegewens en bygevoeg: "Dis hartseer dat daar nie een van George se spanne in die eindstryd van die A-afdeling is nie."
Brinkhuis het sy dank teenoor Adams en die stadsraad/munisipaliteit uitgespreek. Hy het gesê dis 'n riem onder die hart. Dit wys op betrokkenheid by klubrugby in die SWD en dat daar teruggeploeg word.
Jacobs het gesê dit het hom twee weke geneem om die trofee te ontwerp. Dit was nie moeilik nie.
Hy het besluit om 'n groterige trofee te ontwerp. "Ek ken klubrugby en weet die manne hou daarvan om iets te vier."
Saterdag
Martin de Vos van SWD-rugby het Maandag gesê die hekke open reeds om 07:00.
Altesame sewe wedstryde word beslis. Onder die wedstryde is die eindstryd van die Eerste liga A wat om 14:45 beslis word. Dit vind plaas tussen Harlequins en All Blacks.
Beide klubs is van Oudtshoorn.
Die B- en C-spanne van Mosselbaai se Barbarians is deur Evergreens in die halfeindronde uitgeskakel en as troosprys sal Evergreens en Crusaders se naasbestes en derde spanne teen mekaar te staan kom in die eindstryde van dié ligas.
Die hoofwedstryd tussen Heidelberg en Groot Brak is om 16:30. Toeskouers is welkom. Kaartjies beloop R50 vir volwassenes en R20 vir kinders. Kinders onder drie is gratis.
Groot-Brakrivier teken nog punte aan teen Crusaders.
Die toeskouers het 'n naelbyt wedstryd tussen Crusaders en Groot Brak gekyk.
Groot Brak het as die wenners in die semifinaal teen Crusaders weggestap en speel Saterdag teen Heidelberg in die finaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’