GROOT BRAK NUUS - Die Cronjés van beide Schoemanstraat, Heiderand sowel as Lobatse, Botswana was ewe verlig toe 'n groepie werknemers van Pick n Pay, asook die Watson-skoenfabriek verlede week uit hulle pad gegaan het om verlore goedere terug te vind.
Pieter en Ria Cronjé van Heiderand vertel dat Pieter se jongste broer Charlie en sy vrou Mirre, wat jarelank reeds in Botswana woon waar hulle slaghuise bedryf, verlede Donderdag die Watson-skoenfabriek op Groot-Brakrivier besoek het, toe Mirre se beursie met onder andere haar verblyfpermit soek raak. Dít het Mirre eers besef toe hulle ná die besoek weer op Mosselbaai aankom. Daarsonder sou sy nie kon teruggaan Botswana toe nie.
"Ek het dadelik die fabriek geskakel om navraag te doen en met 'n baie vriendelike dame gesels. Sy het gesê sy sal dadelik rondvra en kyk." Volgens Ria het die vrou ook dadelik aangebied om videomateriaal na te gaan afkomstig van kameras wat op die parkeerterrein van die fabriek toekyk.
Die vrou het spoedig teruggeskakel en gesê dat hulle vaagweg op die videomateriaal kon sien hoe Mirre 'n fooitjie aan 'n minderjarige karwag gee en hoe die persoon 'n tweede keer na hulle voertuig, 'n Mercedes-minibus terugdraai.
'Soekgeselskap'
Charles en Mirre is intussen ore in die nek terug Groot Brak toe om te kyk wat of hulle die saak kan beredder om die beursie terug te kry. Daar gekom, is hulle deur die Watson-fabriek se personeel aangeraai om ook by die Pick n Pay oorkant die pad te gaan navraag doen. Personeel wat op ete was en die Cronjés sien rondsoek het, het nadat hulle verneem het van die skade, ook help soek.
"Die mense was so hulpvaardig. Hulle het op en af geloop en selfs langs die aangrensende rivier help soek. 'n Skoonmaker by die openbare toilette het vir Mirre gesê dat sy saam met hom in die toilette kan gaan kyk om haar beursie te probeer opspoor."
Ria sê dat daar selfs met 'n voertuig straat op en af gery is op soek na die verlore beursie.
Intussen het die "soekgeselskap" onder mekaar gesê dat hulle die skuldige party ken en weet waar hy woon. Hiermee het hulle vir Charles gesê dat, as hy hulle sal vervoer, hulle hom sal vergesel na die verdagte jeugdige se woonplek. So gesê, so gedaan. In 'n japtrap was hulle in 'n woongebied by die jeugdige se woonplek, maar hy was nie tuis nie. Hy is spoedig opgespoor en ondervra oor die gesteelde beursie. Na aanvanklike teëstribbeling, het hy beken dat hy die beursie gevat het. Dit is op sy bed, sonder die aansienlike kontantbedrag daarin, maar wel met die ander noodsaaklike dokumente gevind en aan die regmatige, baie dankbare eienaar terugbesorg.
"Almal kon skaars glo hoe behulpsaam die werknemers van die Watson-fabriek, asook dié van Pick n Pay was. Charles en Mirre was so dankbaar dat hulle vir elke persoon wat gehelp het 'n beloning gegee het."
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'