GROOT BRAKRIVIER NUUS - Dit blyk asof Groot Brakkers mor oor die onbeskikbaarheid van toegang tot openbare toilette by die Pick n Pay-sentrum wat op Saterdae vir die publiek gesluit is.
Volgens Barry Jacobs, segsman vir die gemeenskap en verbonde aan die Gourikwa Khoisan-stamhuis is die toilette tans slegs op markdae oop en nie andersins op Saterdae nie.
In 'n skrywe wat hy ook aan die Mossel Bay Advertiser gerig het, meen Jacobs dat dit 'n onaanvaarbare situasie is en toerisme boonop ook 'n knou kan gee.
Jacobs het die steun van sewe sakeondernemings in dieselfde omgewing gewerf om sy grief te steun. Ronald Haquebord van die belastingsbetalersvereniging op Groot-Brakrivier stem heelhartig saam dat toegang tot die toilette nie verhinder moet word nie.
"Saterdae kom doen mense hul inkopies, ontspan en kuier soms 'n rukkie saam onder die bome. Baie van die ouer mense stap ver uit areas soos Greenhaven en Wolwedans. Mense kry 'n badkamer nodig. Dit maak nie sin om toilette op 'n Saterdag gesluit te hou nie."
Haquebord meen dat dit selfs aanvaarbaar sou wees om die toilette dan, indien dit moet, na 14:00 te sluit wanneer die bedrywigheid afplat.
Vorige beswaar
Die Mosselbaai-munisipaliteit het by navraag oor die aangeleentheid gesê dat die ablusiegeriewe ter sprake tot sowat twee jaar gelede wel op Saterdae vir die publiek oop was.
"Die verantwoordelike amptenaar het saam met die vullisverwyderingsafdeling, wat wel op Saterdagoggende gewerk het, na die fasiliteite omgesien. Daarna het die funksie na die Parke-afdeling verskuif en, aangesien personeel van hierdie afdeling nie oor naweke werk nie, is die toilette gevolglik nie verder op Saterdae oopgemaak nie.
"Vir sowat ses maande is slegs een klagte - intern - oor die omstandighede ontvang. Sedertdien is die enigste skriftelike klagte wat tot nog toe by die munisipaliteit ontvang is, dié van Jacobs. Daar is by herhaling tevore aan Jacobs terugvoer gegee dat geen ander klagtes tevore oor die aangeleentheid ontvang is nie.
"Tot nog toe, het nie een van die besighede of die belastingbetalersvereniging by die munisipaliteit beswaar gemaak nie. Daar was selfs nog nooit klagtes van die publiek oor mense wat in die openbaar ontlas nie. Die munisipaliteit het ook nog nooit tevore eers 'n versoek ontvang om spesiaal te gaan skoonmaak nie. Die munisipaliteit neem egter kennis van die mening, soos nou uitgespreek," het munisipale woordvoerder, Nickey le Roux berig.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'