GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Groot-Brakrivier GPF se voorsitter, Jacky Carstens, het die afgelope naweek toperkenning by die Wes-Kaapse gemeenskapspolisieraad se toekennings vir uitnemendheid ontvang.
Carstens is tydens dié spoggeleentheid by die Vishoek-burgersentrum in Kaapstad as die wenner vir die besgedrewe maatskaplike opheffingsprogram aangekondig.
Sy was die stuurkrag agter die GPF se ‘Projek Stasie’, waartydens hulle met behulp van persone op parool die Groot-Brak-polisiestasie opgeknap het. Hulle het onder meer die tuin oorgedoen en ook binne en buite die stasie skoongemaak.
Die toekenning was vir haar ’n groot eer, sê sy. “Die hele ding agter die projek was om die gemeenskap en die polisie bymekaar te bring.” Sy sê ’n skoon en netjiese werksomgewing het ook ’n positiewe uitwerking op die polisielede se moraal.
Groot-Brak se stasiebevelvoerder, kapt. Francois Henzen, het Carstens en die GPF hartlik met hierdie uitstaande prestasie gelukgewens. “Ons waardeer julle harde werk en toewyding tot die Groot-Brak-gemeenskap opreg. Ons sien daarna uit om in die jaar wat voorlê op hierdie sukses voort te bou.”
Volgens Kowie de Kock, die GPF se ondervoorsitter, het Carstens ’n merkbare en positiewe verskil in die GPF gemaak sedert sy as voorsitter verkies is. “Jacky verdien hierdie prys. Haar betrokkenheid en deursettingsvermoë het werklik ’n impak gemaak,” sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’