Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS & VIDEO - Groot-Brakrivier Primêre Skool het vir die eerste keer in sy 49 jaar se bestaan ’n skoollied.
Die lied, “Ons sing: Nisi Dominus Frustra”, is in 2024 deur Tinus Badenhorst geskryf en bou op die skool se leuse, Nisi Dominus Frustra (‘sonder God, alles tevergeefs’), asook sy waardes.
Die leerders oefen al lank daaraan.
Hoewel dit al eenmaal gedurende ’n diplomaplegtigheid gesing is, is dit verlede week vir die eerste keer gedurende ’n juniorsaalopening gesing. Die seniorleerders het hierdie week húlle kans gekry.
Dit is nie die skool se eerste debuutgebeurtenis vanjaar nie. Gedurende Maart het hy ook met trots sy eerste skoolvlag onthul.
Die skoolhoof, mnr. D.G. Rhoode, sê hy is trots dat die skool uiteindelik hierdie simbole het. “Ons is besig om die boeke van die skool te herskryf.”
Hy sê hul skoolsaal is ’n plek van respek en heiligheid. Die vlag en lied vul dit perfek aan. Beide dié elemente word nou by saalopenings geïnkorporeer. Terwyl die res van die skool die lied sing, kom die prefekte die saal binne, met die hoofmeisie en -seun wat onderskeidelik die landsvlag en skoolvlag dra.
VIDEO: Senior leerders sing Groot-Brak Primêr se nuwe skoollied
Die lied en vlag se koms is te danke aan Groot-Brak Primêr se Transformeer om te Presteer-komitee, onder leiding van juf. Zinzi Volkwyn.
Volkwyn sê ’n skoollied bring die hele skoolgemeenskap saam. “Dit dra die hart, waardes en visie van die skool oor, en herinner leerders en personeel aan hul gedeelde identiteit en doelwitte.
Groot-Brak Primêr se prefekte kom deesdae in dié formasie die saal binne gedurende ’n saalbyeenkoms. Foto’s: Linzetta Calitz
“Wanneer dit met trots tydens byeenkomste, spesiale geleenthede en vieringe gesing word, kweek dit ’n gevoel van samehorigheid, skooltrots en tradisie.”
Die skoolvlag, sê sy, is meer as net ’n stuk materiaal.
“Dit is ’n trotse simbool van eenheid en identiteit. Die kruis simboliseer dat jou geloof geanker moet wees, ten alle tye, in God. Dit sluit óók aan by ons skool se leuse.
Groot-Brak Primêr se jong leiers, Clivaan Claassen (onderhoofseun), Ariel Pick (hoofmeisie), Aljaden van Vuuren (hoofseun) en Taylen Jansen (onderhoofmeisie).
“Brakkies is uniek, nederig, en ons staan uit oral waar ons gaan. Mense moet weet, dáái is ’n Brakkie! Trots is by ons ingeburger, en om te strewe om altyd die beste te gee in alles wat ons doen, daarom wil ons ook op ’n ander vlak dit in ons kinders afdruk.
“Soos ons hoof sê, ons wil die beste skool word, vir die kinders van Groot-Brakrivier!
“Ons kinders moet onthou hulle hoef vir niks en niemand in die lewe terug te staan nie! Hulle behoort en moet enige dag met trots kan sê hulle is van Groot-Brakrivier!”
Ons sing: Nisi Dominus Frustra
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’