GROOT BRAKRIVIER NUUS - Op Vrydag 22 Mei het daar groot opwinding in Groot-Brak Primêr se saal geheers danksy die bekendstelling van die skool se amptelike loopbaanklub, gelei deur die lewensoriëntering- en lewensvaardigheidsonderwysers.
Die skool se gr. 7-leerders is bekendgestel aan verskeie gassprekers, prettige speletjies en idees vir moontlike loopbane.
Die doel van die klub is om die leerders te help om loopbaangeleenthede te ontdek, om voor te berei vir die wêreld van werk, om kennis te maak met verskillende beroepe en vaardighede, en om hul drome vir die toekoms na te jaag.
Een van die dag se gassprekers was dr. Ferdi Wesso, ’n algemene mediese praktisyn van Groot-Brakrivier. Hy het die leerders vertel van sy paadjie om ’n dokter te word, as iemand wat ook in Groot-Brakrivier grootgeword het. “Daar is ’n hele ander wêreld buite Groot-Brak.
Om jou gr. 7-eksamens te slaag is die eerste stap om daar uit te kom,” het hy gesê.
Opgewekte leerders by die loopbaanklub. Foto: Gabriélla Siebritz
Die skoolhoof, D.G. Rhoode, het beklemtoon dat die leerders ver in die lewe kan kom, ongeag hul omstandighede.
“Reik na die sterre, so hoog as wat jy kan!”
Die klub sal elke Woensdagmiddag na skool plaasvind. Alhoewel dit hoofsaaklik gemik is op gr. 7-leerders wat binnekort hoërskool toe gaan, is enige leerders van gr. 4 tot 6 ook welkom om dit by te woon.
Die klub sal ook verskeie aktiwiteite insluit soos werkskadugeleenthede, besoeke aan werksplekke en gassprekers wat die onderskeie loopbane bespreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’