GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Groot-Brakrivier Polisie neem vanjaar afskeid van drie van sy lede - gesamentlik het dié drie lede meer as 100 jaar se diens voltooi.
Adjudant-offisiere Jan Kruger (41 jaar diens), Neil Seconds (twee maande kort van 37 jaar diens) en Lukas Adams (34 jaar diens) het al drie in Desember afgetree en daarmee hul kollegas op Groot Brak gegroet.
Seconds en Adams het by hul amptelike afskeid op 13 Desember kortliks met Mossel Bay Advertiser gesels oor hul tyd op Groot Brak.
Uit Seconds se jare diens was 15 op Groot Brak waar hy ten tye van sy aftrede die pos van ondersteuningshoof beklee het.
Beide Adams en Kruger was die bevelvoerders van hul onderskeie skofte - behalwe vir 'n jaar of wat elders, het hulle die meerderheid van hul diens op Groot Brak voltooi.
Groot Brak is een van die kleiner stasies en dus een waar almal baie nou saamwerk. "Hier ken almal vir almal," het Seconds laggend gesê.
Adams het dit beaam en gesê hulle was geheg aan mekaar by dié stasie - "Ek het my tyd hier geniet."
Hulle erken hulle sal darem hul kollegas mis wanneer hulle nie meer daar is nie, maar weet sommer die kollegas sal hulle ook beslis mis!
Wat die aftrede betref het hulle nog geen vaste planne nie, maar werk is beslis nie deel daarvan nie.
"Dis my aftrede, ek kan maak met dit wat ek wil. Ek gaan nie werk nie, maar gaan myself besig hou," sê Seconds.
Adams sê op die oomblik weet hy nog nie waarmee hy homself sal besig hou nie, "maar ek wil my tyd wat ek kan geniet saam met my familie."
Stasiebevelvoerder, kapt Francois Henzen, het die drie lede bedank vir hul jare se diens aan die gemeenskap van Groot Brak en gesê hulle moet die welverdiende rus van aftrede geniet.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’