GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Midbrak-buurtwag (MBBW) en die Groot-Brakrivier-polisie het 'n beroep op die inwoners van hierdie gebied gedoen om meer veiligheidsbewus te wees.
Dit volg ná verskeie onlangse voorvalle van huisbraak, asook poging tot huisbraak.
Volgens die buurtwag was daar voorvalle in die volgende strate: Alwena, Jonkersberg, Steenbras, Robeiland, Mooisig, Dagama, Zebra, Kamfer, Wag 'n Bietjie en Van Zyl.
Die polisie het al verskeie kere vantevore gevra dat inwoners hul deure moet sluit en vensters moet toemaak, veral as daar waardevolle items sigbaar of naby is. Dié kwessie was ook 'n besprekingspunt tydens die buurtwag se laaste vergadering op Maandag 13 April.
Die buurtwag moedig mense ook deurentyd aan om met hul bure kennis te maak en selfoonnommers uit te ruil. Sou jou bure dan iets verdag in jou erf gewaar, kan hulle jou waarsku of die polisie bel.
Dit is belangrik dat enigeen wat so iets gewaar heel eerste die polisie skakel, en dan eers die buurtwag, het die organisasie benadruk.
Die MBBW het ook die volgende algemene wenke gedeel:
- Skuif alle waardevolle items weg van vensters af en trek jou gordyne toe sodra dit donker word (om te verhoed dat ander mense dit binne-in jou huis sien).
- Moenie uitgaan as jou honde blaf nie, kyk eerder vanuit jou donker kamers (moenie ligte in die kamer aansit nie) deur die vensters om te sien waar en hoekom die honde blaf.
- Moenie paranoïes wees nie, maar wees net waaksaam - die MBBW vind heelwat voordeure en motorhuisdeure oop in die aande wanneer hy patrolleer.
- Bel die polisie as jy enige verdagte in jou erf of by jou bure sien. Bel die MBBW nadat jy die polisie gebel het, aangesien die polisie spesiale magte het ingevolge wetgewing wat die MBBW nie het nie.
Jy kan ook by jou plaaslike buurtwag aansluit om aan patrollies deel te neem of om op ander maniere betrokke te raak.
Vir meer inligting oor die buurtwagte of om by die Community in Blue in te skakel, kontak die Groot-Brak-polisie by 044 620 8304/5 of die Groot-Brak GPF se voorsitter, Jacky Carstens, by 063 162 9345.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’