GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Groot-Brakrivier GPF het op 23 Julie 145 handgemaakte troospoppies (comfort dolls) aan die EMS Chaplaincy Mosselbaai oorhandig.
Beide die GPF en EMS Chaplaincy is dit eens: Hierdie poppies is veel meer as net speelgoed. Hulle simboliseer hoop, vertroosting en deernis, en sal gebruik word om kinders te troos wat trauma, vrees en onsekerheid beleef tydens noodgevalle en ander moeilike omstandighede.
EMS Chaplaincy Mosselbaai se distriksbevelvoerder, Adriaan Byleveldt, het die GPF hartlik bedank en verder ook ’n spesiale woord van waardering aan GPF-lede Jacky Carstens (voorsitter) en Lindré Lötter gerig.
“Dankie vir julle inisiatief, toewyding en barmhartigheid om hierdie wonderlike projek ’n werklikheid te maak. Julle bereidwilligheid om na vore te kom en ’n verskil te maak is werklik inspirerend, en ons is ongelooflik dankbaar vir die tyd, moeite en liefde wat julle hierin belê het.
“Elke kind wat een van hierdie poppies ontvang, sal ’n stukkie goedhartigheid van die Groot-Brak GPF saam met hulle dra. Dankie dat julle saam met EMS Chaplaincy Mosselbaai werk om genesing na ons gemeenskap te bring. Dit is vir ons ’n eer om saam te werk met individue en organisasies wat ons passie deel om ander te dien. Mag God elke lid van GPF-lid ryklik seën.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’