GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Ná ’n aankondiging verlede week dat Groot-Brakrivier se ganse verwyder gaan word, het die Mosselbaai-munisipaliteit vandag, 4 September, gesê daar sal ’n item oor dié voëls voor die munisipale raad dien.
Dit volg ná ’n vergadering met die munisipaliteit se omgewingsdepartement wat vanmiddag plaasgevind het.
In sy verklaring op 27 Augustus het die munisipaliteit gesê hy het ’n formele versoek van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning ontvang om “voort te gaan met die verwydering van die wilde ganse”.
Omgewingsimpak asook die ganse se welstand is as redes voorgehou.
Die hare, oftewel vere, het gewaai toe die gemeenskap hierdie nuus ontvang - talle inwoners is teen die verwydering gekant.
Mossel Bay Advertiser het vroeër die week navrae aan die munisipaliteit gerig oor onder meer wanneer en waarheen die ganse verskuif sou word, wie die verwydering sou doen, wanneer die munisipaliteit die formele versoek van die departement ontvang het en ook of dit enigsins ’n opsie is om die ganse nié te verwyder nie.
“Tydens die vergadering, wat deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, asook die munisipale bestuurder, Colin Puren, bygewoon is, het die munisipaliteit se omgewingsdepartment ’n omvattende verslag rakende die ganse voorgehou,” sê die munisipaliteit.
“Na aanleiding van die aanbieding en behoorlike oorweging is besluit dat ’n item met al die relevante inligting aan die raad voorgelê sal word vir oorweging.”
In die vorige verklaring het die munisipaliteit genoem dat hy nou met die DBV sou saamwerk vir die verwydering.
In daardie stadium het die DBV nog nie kommunkasie rakende die ganse ontvang nie, maar het intussen bevestig dat hy nie die verwydering sou hanteer nie. Die DBV het wel gesê hy sal ’n oorsigrol wou vervul om toe te sien dat die proses glad en menslik verloop.
Die ganse neffens Morrisonweg.Formele versoek
Die hoof van kommunikasie vir die Wes-Kaapse departement omgewingsake, Rudolf van Jaarsveld, het gesê die formele versoek om voort te gaan met die verwydering is op 18 Maart gestuur.
Gevra of daar enige spesifieke regulasies van die departement se kant af is rakende wie die verwydering doen en waarheen die ganse gaan, asook of daar ’n spertyd is vir die verskuiwing, het Van Jaarsveld gesê: “Daar is geen spesifieke regulasies van die departement in hierdie verband nie,” en daar is ook nie ’n spertyd in die brief aan die munisipaliteit gegee nie.
Gegewe hierdie feit het Mossel Bay Advertiser gevra hoe ernstig die departement die bedreiging wat die ganse inhou beskou.
“Die departement beskou die voortgesette welstand van die ganse en die gepaardgaande impak, bv. die verplasing van natuurlike fauna en die impak op die riviermondingomgewing, as belangrike aspekte in terme van riviermondingbestuur.
“Die departement vertrou dat die munisipaliteit in ooreenstemming met sy diereverordening en relevante wetgewing sal optree,” sê Van Jaarsveld.
Ná vandag se vergadering met die munisipaliteit se omgewingsdepartement het die burgemeester gesê: “Ons neem kennis van die verskeie insette van die gemeenskap en is bevoorreg om in ’n dorp te dien waar die gemeenskap werklik omgewingsbewus is.
“Die beskerming van die omgewing is vir ons as raad van prioriteit, en dit vorm deel van ons GROEI-strategie. Ons as plaaslike regering besef die verantwoordelikheid tot volhoubare omgewingsbestuur terdeë. Juis hierom is dit belangrik om die aangeleentheid voor die raad te dien ten einde ’n ingeligte en verantwoordbare besluit te neem.”
Die munisipaliteit het gesê daar sal ná afloop van die raadsvergadering ’n volledige mediavrystelling in dié verband gemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’