Update
STILBAAI NUUS - Toenemende spanning oor 'n omstrede grondhervormingsprojek in Stilbaai, het opnuut opgevlam nadat die Hessequa-munisipaliteit die proses rondom twee plaasgedeeltes indringend bespreek en formeel betwis het.
Met byna 300 inwoners wat 'n spesiale raadsvergadering bygewoon het, word die gebrek aan terugvoer van die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling, sowel as kommer oor prosedures en plaaslike impak, nou sentraal tot 'n groeiende dispuut.
Die Hessequa-munisipaliteit het tydens 'n spesiale raadsvergadering op 17 April die grondhervormingsproses op gedeelte 2 van die plaas Schoongeleë No. 282 en Soebattersvlakte No. 611 indringend bespreek.
Dat hierdie kwessie baie belang-stelling ontlok kan gesien word in die feit dat byna 300 mense ingeskakel het op hierdie virtuele vergadering.
Die raad het kennis geneem dat 'n vorige besluit, geneem op 26 Maart, reeds geïmplementeer is, waartydens 'n versoek aan die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling (DGLO) gerig is vir 'n openbare vergadering om met betrekking tot die grondhervormingsproses op bogenoemde eiendomme in gesprek te tree.
Ten spyte van hierdie versoek, is daar tot op hede geen bevestiging of terugvoer van die departement ontvang nie.
In die lig van die gebrek aan betrokkenheid vanaf die DGLO, het die Hessequa-munisipaliteit op 14 April 'n vergadering met verskeie plaaslike rolspelers, organisasies en belanghebbendes binne die Hessequa-gebied belê.
Tydens hierdie vergadering is die volgende uitgespreek:
Sterk ontevredenheid en kommer oor die proses wat gevolg is met die implementering van hierdie spesifieke grondhervormingsprojek; en ernstige kommer oor die oënskynlike afwesigheid van die aanbevelings vervat in die Wes-Kaapse departement van landbou se assesseringsverslag (Oktober 2024) van hierdie plase in die huidige grondhervormingsproses.
Die raad het beswaar aangeteken teen die hervestiging van opkomende boere uit 'n naburige munisipaliteit.
Ná beraadslaging is besluit om 'n formele dispuut ingevolge artikel 41 van die Wet op die Raamwerk vir Interregeringsverhoudinge te verklaar, sodat die aangeleentheid deur toepaslike interregeringsmeganismes hanteer kan word.
Verder het die munisipale raad goedgekeur dat 'n onafhanklike eksterne regsopinie ingewin word om die moontlike risiko's te evalueer wat die implementering van die huidige grondhervormingsproses vir die breër Hessequa-gebied kan inhou.
Die Hessequa-munisipaliteit het bevestig dat hulle verbind bly tot deursigtige, wettige en konsultatiewe regeringsprosesse, en sal voortgaan om vir betekenisvolle betrokkenheid met alle regeringssfere te pleit ten einde volhoubare uitkomste in belang van plaaslike gemeenskappe te verseker.
Tinus van den Berg, speaker van die Hessequa-munisipaliteit, het Woensdag
22 April in 'n potgooi met Karen Loots gesê dat vandat die munisipaliteit bewus geword het van die grondhervormingsproses hulle met die departement geskakel het.
Na 'n eerste vergadering waar die departement hom verbind het tot 'n opvolgvergadering met die gemeenskap het niks verder gerealiseer nie en daarom het die raad op 17 April besluit om 'n dispuut te verklaar.
Indien die dispuut nie bevredigend opgelos word nie is die volgende stap om regstappe te neem.
Hy sê verder dat die gemeenskap rustig kan wees, want hulle volg die regte prosedure om die regte antwoorde te kry en dan sal die gemeenskap ingelig word.
Hulle glo aan deursigtigheid en sal nie die gemeenskap mislei nie.
In 'n mediaverklaring aan Mosselbaai Advertiser het die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling die kwessie as volg verduidelik:
Die verkryging van die plase Schoongeleë en Soebattersvlakte het alle voorgeskrewe prosesse gevolg, in ooreenstemming met departementele beleidsraamwerke en riglyne.
Alle nodige assesserings, ontledings en navorsing is gedoen om die plase se vermoë en die beskikbare infrastruktuur te bepaal om die boere te ondersteun.
Die departement is tans besig om die aantal kleinskaalboere te bepaal wat vir hervestiging oorweeg sal word, gebaseer op die drakrag van die plase.
Dit is belangrik om daarop te let dat die hervestiging gemik is op die voortgesette bedryf en verskuiwing van boerdery-aktiwiteite, eerder as die hervestiging van die kleinskaalboere self en hul gesinne.
Hierdie kleinskaalboere is betrokke by gemengde boerdery-aktiwiteite, met kommoditeite soos beeste, bokke, skape en varke.
Die departement is tans besig om 'n hulpbronplan te ontwikkel vir die verskuiwing van diere vanaf die huidige terrein in Mosselbaai na die Hessequa-munisipaliteit.
Aangesien die proses nog in die beplanningsfase is, sal die toekenning van 'n eiendom deur middel van 'n huurkontrak, sowel as die verskuiwing van boerdery-aktiwiteite, eers gefinaliseer word sodra die hulpbronplan voltooi is.
Konsultasies met kleinboere
Konsultasies is met alle betrokke boere in Mosselbaai gevoer.
Die boere is ingelig oor die geïdentifiseerde eiendom en het aangedui dat hulle bereid is om die verskuiwing van hul boerdery-aktiwiteite na die grond te oorweeg, aangesien dit 'n beter opsie as hul huidige ligging bied.
Daar moet kennis geneem word dat dit die enigste eiendom in die nabyheid van Mosselbaai is wat die departement sedert die hofbevel in 2020 suksesvol kon bekom.
Dit dui op 'n breër uitdaging wat die regering ervaar om strategies geleë landbougrond in die Tuinroete-distrik te bekom.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’