MOSSELBAAI NUUS - Persone met gestremdheid in Friemersheim het op 6 April 'n besonderse byeenkoms beleef toe 'n program aangaande onder meer hulle regte op die dorp aangebied is.
Die program is aangebied deur die Mosselbaai-munisipaliteit in samewerking met die departement van maatskaplike ontwikkeling.
Volgens Alma Kapp van die munisipaliteit se kantoor vir sake rakende gestremdheid, geslag, bejaardes en MIV/VIGS, was hierdie aanbieding by die Makadamia-groep vir gestremdes, die eerste van maandlikse byeenkomste wat vanjaar gehou sal word.
Die volgende punte is bespreek:
• die daarstel van ‘n standaard-verwysingstelsel waarvolgens persone te enige tyd enige probleme, uitdagings of behoeftes kan kanaliseer
• terugvoer van die kwartaalvergadering van die Mossel Bay Local Disabled Forum
• vasstelling van die jaar se datums waarop daar met die groep vergader en programme gehou sal word
• fokus op vyf regte van persone met gestremdheid
• behoefte-analise oor die behoefte van ‘n terapeutiese ondersteuningsgroep
• deelname aan die Golden Games op 5 Mei vanjaar
Die groep se steratleet, André Malgas het te kenne gegee dat hy besonder baie na die Golden Games uitsien. Die sportbyeenkoms vir ouerwordende persone word vanjaar vir die eerste keer sedert die koms van Covid-19 weer aangebied.
Nomaline Prins, 'n sameroeper van die groep, het gesê dat hulle die sessie besonder leersaam gevind het.
"Baie van ons groep se vrae is tydens die sessie beantwoord."
Die Makadamia-groep vir persone met gestremdheid se byeenkoms in Friemersheim.'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'