MOSSELBAAI NUUS - As deel van die Mosselbaai-munisipaliteit se omgewingsvriendelike oogmerk sal alle huishoudings vanaf Julie vir vullisverwydering drie sakke per week ontvang; een swart, een blou en een groen. Binnekort gaan inwoners egter 'n pakkie met vyf groensakke ontvang sodat die eerste amptelike verwydering van tuinvullis reeds vanaf 2 Julie ingestel kan word.
Die nuwe vullisverwyderingsbeleid beoog juis dat inwoners vullis wat verwyder moet word, tuis sal sorteer sodat dit gepas verwyder en op die regte terrein gestort kan word.
Voortaan sal al drie die vullisverwyderingsakke steeds kwartaalliks uitgedeel word, soos wat die swart- en blousakke tot nog toe versprei is. Die munisipaliteit voorsien net een sak van elk per week en inwoners kan by enige verskaffer self meer van die sakke aankoop, indien nodig.
"Daar is nog areas wat nie 'n blousakstelsel het nie en ons gaan dit ook mettertyd uitrol. Daardie areas sal voorlopig steeds net die een swart- en een groensak ontvang," berig die direkteur van gemeenskapsdienste, Elize Nel.
Gebruik regte sakke
"Vullis moet in die regte sakke geplaas word. Swartsakke is slegs vir huishoudelike vullis. Blousakke is uitsluitlik vir herwinbare afval. Die groensakke is net vir tuinvullis bedoel. Indien afval in die verkeerde sakke geplaas word, gaan dit nie verwyder word nie. Dit oogmerk is dat inwoners tuis reeds die vullis sal sorteer. By die nuwe streekstortingsterrein sal tuinvullis wat gemeng is met huishoudelike vullis glad nie aanvaar word nie."
Afhaal van sakke
Nel sê al drie die sakke sal op dieselfde dag verwyder word. "Daar is areas waar die blou- en swartsakke tans op verskillende dae afgehaal word, maar vanaf Julie sal al drie die sakke verwyder word op die dag waarop swartsakke tans verwyder word. Die munisipaliteit gaan die swartsakke verwyder terwyl die onderskeie kontrakteurs die blou- en groensakke sal optel."
Sakke word weeksdae opgetel, vakansiedae ingesluit. Indien daar om welke rede nie verwydering kan wees nie, sal dit betyds gekommunikeer word en sal verwydering op die volgende werksdag, waar moontlik plaasvind.
"In sewe jaar het dit nog net by twee geleenthede gebeur dat vullis nie op die relevante weeksdag opgetel is nie, so dit is uitsondering."
Meer as twee sakke
Tans betaal inwoners op hul diensterekeninge net vir die verwydering van twee sakke per week. Inwoners wat meer sakke wil gebruik moet self meer sakke aankoop.
Die munisipaliteit of die diensverskaffer, Interwaste, kan gekontak word om meer blousakke te bekom. Herwinning kan ook in deurskynende sakke, beskikbaar by supermarkte en ander verspreiders, gedoen word.
Tuinvullis in groen sakke
"Inwoners wat meer groensakke wil uitsit, moet self die ekstra sakke koop. Tuinvullis moet egter steeds groensakke wees. Tuinvullis moet glad nie in swartsakke gesit word nie. Inwoners word ook versoek om sover moontlik álle tuinvullis in die groensak te sit en nie bondeltjies te maak of los takke te laat lê of los binne houers te plaas nie," versoek Nel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'