MOSSELBAAI NUUS - Sharlton Groenewald, die nuwe skoolhoof by Ridgeview Primêre Skool is skynbaar net so leergierig soos die jonges wat hy vandeesweek by die skool terugverwelkom het.
Groenewald, wat met trots erken dat hy graag aanhou leer, is tans besig met sy doktorsgraad in opvoedkunde.
As boorling van Mosselbaai is hy bly om die laaste jare van sy loopbaan in sy komvandaan te kan terugploeg.
Nadat hy sy onderwysdiploma in Oudtshoorn ontvang het in die jare tagtig, vul hy sy eerste onderwyspos in die landelike Suurbraak. Aanvanklik het 'n paar agtereenvolgende tydelike poste hom heelwat tussen skole laat skuif, tot hy hom 16 jaar lank in Prins Albert gevestig het.
Vandaar was hy 'n tyd lank betrokke by rekenaaropleiding in skole en het wyd gereis deur die Eden- en Sentraal-Karoostreek. Hy beskryf dit as uitstekende blootstelling aan verskillende hoofde se bestuurstyle.
Hy keer terug na voltydse onderwys en dien as adjunk-hoof by St Blaize Primêre Skool, waarna hy die skoolhoof op Leeu-Gamka word.
Sy honneurs- en meestersgraadstudies handel onderskeidelik oor die toepassing en bestuur van onderwyswetgewing en die skryf van onderwysbeleid. Sy doktoraal is 'n uitbreiding van laasgenoemde en hy fokus daarop deur hoe om 'n doelgemaakte beleid vir 'n bepaalde skool te skryf, kan bydra tot onder meer verbeterde dissipline.
Wat Ridgeview betref, wil hy graag sien dat die skool onder sy leierskap floreer en weer sy volwaardige plek in die skoolgemeenskap inneem. Hy het reeds aktief die gemeenskap begin betrek, asook geestelike en sakeleiers.
"Ons eerste projek is om die skool se badkamergeriewe op te knap. Dit is so oud soos die skool self. Hierdeur gee ons die eerste stap om waardigheid te herstel."
Sy liefde vir die boeke beskryf hy as 'n begeerte om voortdurend nuwe kennis in te win.
"Dis lekker om te leer en ek raak gou verveeld. Ek hou daarvan om heeltyd nuwe dinge te ontdek."
Na sy loopbaan in die onderwys, sien hy daarna uit om dalk sy hand aan tersiêre onderwys te waag.
"Ek gaan beslis nie aftree nie," sluit hy af.
Groenewald se stokperdjie is fotografie. Hy skakel ook reeds etlike jare by die Mossel Bay Advertiser se vryskutspan in en lewer gereeld bydraes vir die koerant.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'